‘Die Here het gekom en gaan staan en soos die vorige kere geroep: “Samuel, Samuel!” En Samuel sê: “Praat, Here, u dienaar luister!” ‘ 1 Sameul 3:10

Gewoonlik reageer ’n mens met ’n ‘ja?’ wanneer jou naam geroep word. Of dit nou jou bestuurder by die werk, of jou kind by die huis is. Jou reaksie dui daarop dat jy gereed is om te hoor waarom jou aandag vereis word.

Net soos God Sameul se naam geroep het, het Hy joune ook geroep.

‘… ook julle is geroep om aan Jesus Christus te behoort.’ Romeine 1:6

Omdat jy op daardie roepstem gereageer het, is jy vandag ’n wedergebore kind van God.

Dit was egter nie die laaste keer wat Hy jou naam geroep het nie. Hy doen dit steeds.

Tydens een van ons eredienste, het die pastoor iets genoem wat my anders na alledaagse gebeure laat kyk het. Hy’t gesê dat die Here elke dag op een of ander manier ons aandag probeer trek. Amper asof Hy vir ons staan en waai. Miskien in die mooi sonsopkoms, of jou kind se lag. Dalk deur die hawelose man by die verkeerslig se desperaatheid, of die nors teller se onwilligheid. Dit kan wees terwyl jy stiltetyd hou, of na musiek luister, of in die tuin werk.

Al wat jy hoef te doen, is om dit raak te sien, en wanneer jy jou naam hoor, te antwoord met ’n ‘ja, Here?’

’n Gesonde verhouding word gebou op praat en luister. Jy het ’n verhouding met die Here en is nie veronderstel om alleen die praatwerk te doen nie. Dit is belangrik dat jy ook vir ’n oomblik stilstaan en luister na wat Hy vir jou wil sê.

Jy is deel van sy liggaam en het ’n belangrike funksie om te vervul. Om egter te weet waar jy nodig is, het jy nodig om te luister vir jou naam.

‘Toe het ek die Here hoor vra: “Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?” Ek het geantwoord: “Hier is ek! Stuur my!”’ Jesaja 6:8

Mag jy in die week wat voorlê daardie oomblikke waarin die Here jou naam roep erken, en gereed wees om te luister.

Geskryf deur Madeleine Venter