MATTEUS 21:23-32 (Lees die 2020-vertaling)

Jesus se aankoms met sy dissipels by Betfage teen die Olyfberg en voorbereidings vir sy intog in die Heilige Stad (21:1-5), is ’n belangrike draaipunt in Matteus se vertelling. Die fokus op Jesus en sy dissipels met die reis na Jerusalem, verbreed. Jesus se opponente is saam met die skare terug in die prentjie, saam met nuwe karakters, die Romeine. Die skaduwee van die Tempel val oor ’n groot deel van dié verhaal. Jesus onderrig in en om die tempel, terwyl die lot van die tempel die sentrale tema is van die profetiese rede (24:1- 25:46) en weer opduik in die lydensverhaal. Matteus voeg die drama van die intog in Jerusalem en Jesus se reiniging van die tempel (21:12-17) saam in een verhaal, om Jesus se messiaanse gesag te bevestig. Die storie oor die vervloeking van die vyeboom (21:18-22) dien as onderrig aan die dissipels oor die belangrikheid van sterk en vaste geloof. In kontras daarmee demonstreer die leierpriesters en familiehoofde (21:23-27) ’n gebrek aan geloof in Jesus, as hulle die gesag waarmee Hy optree bevraagteken. Hul onversetlike houding laat Jesus ’n reeks gelykenisse vertel wat wys op hulle gebrek aan geloof en die gevolge daarvan. Die gelykenis van die twee seuns (21:28-32) is uniek aan Matteus.

Ons Skrifdeel vertel dat Jesus op die temepelterrein besig was met onderrig toe die hoëpriesters en familiehoofde van die volk Hom konfronteer met die vraag: “Op watter gesag doen jy hierdie dinge? En wie het aan jou hierdie gesag gegee?” (vers 23). Die eintlike vraag wat die leiers van die volk wou vra, was: “Dink jy dalk jy is die Messias?” Hulle kon dit egter nie direk vra nie. Hulle was versigtig vir die reaksie van die volk, wie Jesus se optrede en verkondiging onderstreun het. Die leiers het wel goeie rede gehad om navraag te doen oor gesag. Hulle het geglo die Messias wat die Ou Testement belowe het, sal gesag oor die Tempel hê. Jesus verskyn op die toneel. Hy betree die heiligste plek van aanbidding wat al vir eeue deur die priesterhoofde beheer is. Hy neem die gesag uit hul hande uit. Wie dink dié Jesus is Hy? Immers, die enigste persoon wat moontlik groter gesag as die hoëpriester in die Tempel sou kon hê, is God se gesalfde koning, die Messias – as of wanneer hy sou opdaag. Niemand weet wanneer dit sou gebeur nie.

Die lede van die Sanhederin konfronteer Jesus met die vraag oor gesag, omdat hulle Hom aansien as ’n indringer wat nie sy plek ken nie. Jesus se antwoord op hulle vraag is ’n meesterlike strategiese skuif. Sy vraag oor Johannes die Doper plaas hulle in die ongemaklike posisie dat wat hulle ookal antwoord, hulle in die moeilikheid kan laat beland. Jesus se vraag oor Johannes bied reeds die leidraad vir die antwoord wat Jesus aan hulle sou kon gee. Matteus se lesers weet immers dat God reeds vir Jesus gesalf het met die Heilige Gees, deur Johannes die Doper (3:16-17). Daar is Hy vir die eerste keer aangekondig as God se geliefde Seun, die Messias. Indien die Joodse leier werklik verstaan het wat Johannes gedoen het, sou hulle weet waar Jesus die gesag ontvang het om as Messias in die Tempel op te tree.

Jesus gaan nog verder en vertel die gelykenis van twee seuns (vers 28-31). Sy punt is dat sommige mense wel gedoen het wat Johannes gesê het, al sou dit voorkom asof hulle teen God rebelleer. Ander weer, het die indruk gewek dat hulle Johannes se leer verwerp het, maar lyk asof hulle wel God se uitverkorenes is. Dit is net soos die twee seuns wat ja en nee gesê het, maar die omgekeerde gedoen het. Jesus spel sy bedoeling met die gelykenis verder uit. Die seun wat aanvanklik “nee” gesê het, verteenwoordig die tollenaars en prostitute. Hulle het Johannes se boodskap aanvaar en tot inkeer gekom. Die tweede seun verteenwoordig die Tempel hiërargie. Hulle het die rituele van die godsdiens in die Tempel gehandhaaf, maar kon nie die Messias in hul midde herken nie. Daarom vra hulle na die oorsprong van Jesus se gesag. Die Messias was in hul midde en het tot herkenning en inkeer geroep. Herken ons vir Jesus by ons vandag?

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD WAARHEEN GOD ONS STUUR
Agtiende week van Koninkrykstyd – Jaar A