‘“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.’ Johannes 14:27
Die dissipels moes baie verward gewees het oor hoe gebeure besig was om te ontvou. Kan jy jou indink hoe bang en onseker hulle moes gevoel het toe Jesus sê dat Hy weggaan?
In Johannes 14:27 sien ons dat Jesus erkenning aan hulle vrese gegee en troos gebied het.
Hy het dieselfde met Jaïrus gedoen toe die raadslid pas die ontstellende nuus ontvang dat sy dogter reeds gesterf het:
‘Jesus het egter met die een oor gehoor wat daar gesê word, en Hy sê toe vir die raadslid van die sinagoge: “Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo!”’ Markus 5:36 (eie klem)
Waarvoor is jy bang? Watter ontstellende nuus het jy ontvang? Waaroor voel jy angstig?
Jy is nie alleen nie. Jesus weet daarvan, en Hy sê vir jóú ook: “Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo!”’
Bly glo in God se goedheid en daardie liefde waarvan niks jou kan skei nie. Bly glo dat niks vir jou almagtige Vader onmoontlik is nie. Bly glo dat Hy saam met jou deur die donker dieptes stap. (Ps. 145:9; Rom. 8:38-39; Jer. 32:17; Ps. 23:4)
Memoriseer sommer dié Skrifgedeelte uit Jesaja en sê dit hardop wanneer jy bang word:
‘Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.’ Jesaja 41:10
God se grootste troos aan ons is sy teenwoordigheid. Jesus het belowe dat Hy weer sal terugkeer en Hy het die Heilige Gees gestuur om by ons te wees tot dan.
Bring hierdie week al jou vrese en onsekerhede in gebed na sy troon en laat die Heilige Gees toe om dit van jou skouers af te lig en jou toe te vou in sy vrede.
Geskryf deur Madeleine Venter