Hier aan die Suidelike Halfrond, is daar nou oral om ons botsels en bloeisels. ’n Stil herinnering daaraan dat winters tot ’n einde kom en nuwe lewe saam met die lente sy verskyning maak.

So is dit ook met jou lewenspad. Jy kan altyd weer uitsien na ’n seisoen van nuwe lewe.

Maar, wat van daardie areas in jou lewe wat regtig morsdood is? Daardie situasies waarvoor daar geen hoop meer is nie?

In Numeri lees ons van ’n stok wat morsdood was totdat God dit aangeraak het.

‘Die volgende dag toe Moses in die tent met die Getuienis kom, het die staf van Aäron, vir die huis van Levi, begin bot! Dit het bloeisels laat uitspruit, blomme gedra en ryp amandels voortgebring.’ Numeri 17:8 AFR20

Onmoontlik? Nie vir God nie.

Wat selfs nog meer merkwaardig is, is dat die staf aanhou lewe het. Ons lees dat God vir Moses gesê het om dit daar by die tent te los as ’n herinnering aan diegene wat opstandig teenoor Moses en Aaron was. ’n Staf was in Bybelse tye ’n simbool van outoriteit, en hulle sou dus elke keer wat hulle die staf vol bloeisels sien, opnuut besef aan wie God die outoriteit gegee het. (Num. 17:10)

Jy sien, ons dien ’n Here oor wie die dood geen mag het nie. Hy kan selfs droë bene weer lewe gee, en ’n kliphart laat klop. (Es. 37:1-14; Es. 36:26)

Hy kan daardie droë, dooie plekke op jou lewenspad in jubelende blommevelde omskep.

‘Die woestyn, die dor land, sal jubel, die droë wêreld sal juig, oortrek met affodille;’ Jesaja 35:1

Jy behoort aan die Skepper van lewe. Hy het jou naam geroep, jou afgesonder en weergebore laat word. Strome lewende water vloei uit jou omdat Hy in jou woon. In Hom het jy outoriteit en is jy meer as ’n oorwinnaar.

Daarom mag jy nie moed verloor nie. Geen situasie is so hopeloos dat God dit nie kan red nie.

Mag jy in die week wat voorlê, ervaar hoedat Hy ook in jóú dor plekke nuwe lewe laat uitspruit.

Geskryf deur Madeleine Venter