Na aanleiding van Psalm 78:1-4, 12-16 (lees 2020-vertaling)

Here, as gelowiges is ons gedurig bekommerd oor u kerk. Ons peins oor wat ons generasie Christus volgelinge moet doen om volgende geslagte te vorm en toe te rus sodat hulle U sal ken en mag kies om U in geloof as hul Here en
God te dien. Ons Psalmis was ook hieroor bekommerd.

Ek hoor die Psalmis die posisie inneem van leermeester en wysgeer. Hy roep sy geloofsgenote op om aandag te gee en te luister, Here. Hy wil hulle onderrig oor u roemryke dade. Hy vra hulle onverdeelde aandag vir die geskiedenis. Deur te vertel van u dade in die verlede, kan ons lewe rigting gee.

Here, die gelowige opvoeder van ons Psalm, kies verskillende tegnieke om die verhaal oor u roemryke dade oor te dra aan die nageslag van u verbondsmense. Die Psalmis deel woorde met die mond, benut spreuke om wyshede te kommunikeer en noem raaisels wat u dade vir menslike begrip verberg.

Die Psalmis gee ook erkenning aan die oorleweringe van die voorouers wie U gedien het, Here. Vir hierdie wyse leraar is gelowige voorouers ’n noodsaaklike bron vir geloofsvorming. Hulle is geloofsgetroue getuies dat U in die geskiedenis van u mense handel. Hulle getuig dat U oral teenwoordig is.

Vir die Psalmis is dit ononderhandelbaar dat u roemryke dade bekend gemaak moet word. Volgens dié wyse opvoeder mag geen van u dade in die geskiedenis weggesteek word nie, Here. Van u mag en wonders moet die volgende geslag kennis neem. Ons kinders moet weet wat U gedoen het sodat hulle kan lewe.

Dit is tog aangrypend hoe die gelowige opvoeder, wyse leraar wat hy/sy is, Here, die geskiedenis interpreteer as ’n reeks dade wat U in die lewe van u verbondsvolk gedoen het en steeds doen. Dié vertelling getuig van u teenwoorrdigheid deur ons hele lewe. Elke blokkies geskiedenis dien as openbaringe van u goeie dade.

Dis opvallend hoe die verlossing van Israel uit Egipte, die kern is vir die geloofsherinneringe van u verbondskinders, Here. Telkens dien die Eksodus as model vir ons om u dade van verlossing ook uit ons nood te herken. Die verhaal oor u optrede in Egipte, word die bril om U vandag te herken wanneer U wéér so optree in ons lewe.

Here, dankie vir wolke, vuur en water wat vir ons simbole is dat U wonderlik gehandel het en steeds dieselfde God vir ons ook is.
Amen.

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR A – AGTIENDE WEEK VAN KONINKRYKSTYD