Elkeen van ons gaan die een of ander tyd in ons lewens deur ’n geloofskrisis. Soms meer as een keer.
Die verhaal van Tomas is ’n interessante een. Ons lees in Johannes 20 dat hy nie saam met die dissipels was toe Jesus die Sondagaand van sy opstanding aan die hulle verskyn het nie. (Joh. 20:19-29)
Ek kan nie help om te wonder, waarom nie? Was hy miskien so teleurgesteld in Jesus se kruisdood dat hy sommer ook niks meer met die ander dissipels te doen wou hê nie? Dalk vies dat hy homself om die bos laat lei het? Miskien het hy juis homself eenkant gehou omdat hy, net soos hulle, bang was vir die Jode en gereken het dit is beter om eerder nie saam met die ander volgelinge van Jesus rond te hang nie?
Wat ook al die rede vir sy afwesigheid was, ons lees in vers 35 dat hy hulle nie geglo het toe hulle hom vertel het dat Jesus by hulle was nie. Ek kan my nogal voorstel dat hy skepties gesnork het: “Yeah, right! Ek sal dit eers glo as ek my vingers in die merke van die spykers kan steek en my hand in sy sy.”
Die ding wat my so fassineer van dié verhaal, is dat Jesus hieraan aandag gegee het toe hy agt dae later weer aan sy dissipels verskyn het.
‘Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.”’ Johannes 20:27
Van al die dinge wat Jesus met daardie verskyning kon sê, fokus Hy sy aandag op Tomas, en nooi hom nogal om presies dít te doen wat hy gesê het hom sal laat glo.
Wat hierdie verhaal ons leer, is dat God nie ons geloofskrisisse ligtelike opneem nie.
Wanneer die teleurstelling so groot is dat jy net nie meer kan glo nie, is hy steeds naby, gereed om jou by te staan in jou ongeloof.
Tomas was die tweede keer wél by toe Jesus aan sy dissipels verskyn het. Al het hy nie geglo nie, het hy tog saam met hulle gewag, want diep binne in sy hart het hy gehoop hulle praat die waarheid.
Ek het eenkeer in ’n boek gelees dat jy jouself die volgende moet voorstel wanneer jy twyfel: Veronderstel jy stap deur ’n verlate bos en daar is niemand anders naby nie. Skielik gee die grond onder jou mee en val jy in ’n diep gat waaruit jy nie self kan kom nie. Wat is die eerste ding wat jy gaan doen? Jy gaan roep om hulp. Al was jy stoksielalleen toe jy in die gat geval het, gaan jy tog hoop dat daar miskien iemand naby is wat jou gaan hoor roep.
Net so, moet ons ook na God roep, al twyfel ons in sy teenwoordigheid. Net soos wat Tomas tog maar saam met die dissipels gewag het, al het hy getwyfel. En net soos wat die desperate pa uitgeroep het: “Ek glo, help my in my ongeloof!” al was hy nie so seker of Jesus beter as sy dissipels daarin sou vaar om sy seun te help nie. (Mark. 9:24)
Roep na Hom en Hy sal antwoord. Hy is die Goeie Herder wat sy verlore skaap gaan soek. Hy is die liefdevolle pa wat sy kind wat terugkeer tegemoet hardloop. Hy wil jou help in jou ongeloof, want niks kan jou van sy liefde skei nie.
En daarvan kan jy seker wees.
Geskryf deur Madeleine Venter