Na aanleiding van Psalm 19 (lees 2020-vertaling)
Here, dankie dat U met ons kommunikeer, U aan ons op verskillende maniere openbaar en ons bewus maak van u wil vir ons lewe. Uiteindelik kan ons U net dank vir die voorreg dat U aanhou met ons bemoeienis maak en dat die Psalmis dit opnuut onder ons/my aandag bring.
Die Psalmis se gebed beskryf aangrypend dat ons U leer ken deur u skeppingswerk wat daagliks boodskappe dra tot U eer. Here. Wat my tref in die Psalmis se getuienis oor U self-openbaring in u handewerk, is dat ons U daar leer ken sonder dat woorde boodskappe oordra.
U woordlose openbaring in die hemelruim en die son se beweging oor die hemelkoepel, maak ons bewus van die ruimheid waarmee U met ons kommunikeer, Here. Ons steek vas by taal en die woorde wat ons gebruik om oor U te praat, maar U verlê grense en laat ons U ook sien.
Die Psalmis herinner ons weer aan u volmaakte wet wat nuwe lewenskrag gee, die oë verhelder en wysheid aan onkundiges gee. Here, u wet openbaar u geregtigheid en leer ons die waarde van u suiwer gebod vir die lewe voor u aangesig, en vir ons verhouding met die skepping.
Here, in ’n tyd waar omgewingsgeregtigheid en ekologie in die brandpunt van ons lewe voor U staan, lê die paradoks van geloofskommunikasie ons gebrek aan reg in die wêreld bloot. Ons sien u handewerk, beleef U in die stilte, én hoor
ons eie woorde wat u wil dikwels weerspreek.
Here, die verlange in my hart is dat ek en u kinders nie sal toegee aan die teenspraak tussen u woordlose openbaring en die oppervlakkige woorde waarmee ons U probeer eer nie, sonder die handhawing van u reg. Here, mag my woorde en bepeinsinge U behaag en U waarlik God laat wees in my lewe.
Here, ek erken dat U op elke moontlike manier kommunikeer en dat ek geen verskoning het om U nié te sien of te hoor nie. Wek in my opnuut ontsag vir U. Hou my bewus van dwalinge in my lewe, wat my onverhoeds bekruip en insigloos laat optree waar ek die soetheid van u reg behoort te handhaaf.
Amen
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond