‘Die ander een het hom egter bestraf en gesê: “Het jy nie ontsag vir God nie? Jy ondergaan per slot van rekening dieselfde straf! In ons geval is dit regverdig – ons word tereg gestraf vir wat ons gedoen het. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.” Hy sê toe: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom! ” Jesus het hom geantwoord: “Amen, Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”’ Lukas 23:40-43 AFR20

Waarom het Jesus hierdie misdadiger, wat saam met Hom gekruisig is, so vinnig ’n plek in die Paradys gegun?

Hy was heelwaarskynlik nie ’n baie godsdienstige mens nie. Is nie gedoop nie. Nie in ’n kerk aangeneem nie. Nie hande opgelê en voor gebid nie. Was nie betrokke by kerkaktiwiteite nie. Het nie finansieel bygedra vir die instandhouding van die kerkgebou nie. Was nie op enige kerkkampe gewees nie. Nooit ’n ouderling of diaken nie. Het ook nie Bybelskool bygewoon nie.

Niks van daardie dinge, wat ons soms glo ons ’n ereplekkie in die hemel sal verseker, was deel van sy lewensverhaal nie. En tog word hy daarvan verseker dat hy daardie selfde dag nog saam met Jesus die Paradys sal binnestap.

Dit is omdat dit wat hy gesê het aan die enigste vereiste vir verlossing voldoen het.

  • Eerstens het hy erken dat Jesus die Seun van God is, deur die ander misdadiger – wat besig was om Jesus te laster – te vra of hy dan nie ontsag vir God het nie. Hiermee het hy verklaar dat Jesus God is. Romeine 10:9 sê:

‘Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en jy glo met jou hart dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word.’

  • Tweedens het hy erken dat hy ’n sondaar is deur te sê dat hy en die ander misdadiger tereg gestraf word vir wat hulle gedoen het. Hy was dus opreg jammer oor sy sondes. Hy sê ook dat Jesus dieselfde straf as hulle verduur al het hy niks verkeerd gedoen nie. M.a.w. hy erken Jesus se opoffering.Handelinge 3:19 sê:

‘Bekeer julle en draai terug, sodat julle sondes uitgewis kan word,’

En ook 2 Korintiërs 7:10:

‘Want die droefheid, volgens die wil van God, bewerk inkeer, wat tot verlossing lei …’

  • Derdens het hy Jesus as Koning erken deur te vra dat Hy aan hom moet dink wanneer Hy in sy koninkryk kom. Johannes 3:3 sê:

‘Jesus het hom geantwoord: “Amen, amen, Ek sê vir jou: As iemand nie van bo gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”’

Net so, hang jou verlossing nie af van hoe betrokke jy in die kerk is nie. Dit hang nie af van hoe goed jy die Bybel ken nie. Dit hang ook nie af van hoeveel jy vir liefdadigheid gee nie.

Erken dat jy ’n sondaar is met sondeskuld, maar dat Jesus die Seun van God is wat jou losgekoop het deur daardie straf in jou plek te dra, en – omdat jy dit glo – Hy nou die Koning van jou lewe is.

Dit is al wat nodig is om gered te word. Die res het Jesus reeds gedoen.

Geskryf deur Madeleine Venter