MATTEUS 20:1-16 (Lees die 2020-vertaling)
Matteus 20:1-16 is ’n onderdeel van Matteus se derde deel oor Jesus se reis na Jerusalem; na sy lyding, dood en opstanding (16:21-28:20). Matteus bind dié onderdeel tot met Jesus se intog in Jerusalem (hfst 21) saam met behulp van twee tegnieke. Die een is Jesus se “reis” na Jerusalem. Eers in Matteus 19:1 verlaat Jesus Galilea en rig Hom na Jerusalem. Die volledige 16:21-20:34 (ook ons Skrifdeel) beskryf Jesus se “reis na Jerusalem”. Die tweede tegniek van Matteus in dié eenheid, is Jesus se aankondiging van sy lyding (16:21; 17:22=23; 20:17-19). So nooi Matteus sy lesers om Jesus se hele lewensverhaal (vanaf 16:21) vanuit die perspektief van sy lyding en opstanding te interpreteer. Die aankondiginge nooi lesers ook om Jesus se interaksie met sy dissipels (16:21-28:20) te beoordeel in terme van Jesus se bedoeling om die dissipels te laat verstaan wat diensbaarheid (servanthood) beteken (16:24-25; 20:25-28).
Wanneer Jesus Galilea verlaat op weg na Jerusalem toe (19:1), volg ’n skare Hom en bedien Hy hulle deur genesing van siekes. Nadat Jesus sy dissipels oor egskeiding onderrig het (19:3-12), kindertjies geseën het (19:13-15), die ryk jongman opdrag gegee het om sy besittings te verkoop en vir die armes te gee (19:16-22), waarsku Jesus sy dissipels teen die verleiding van rykdom, met ’n eind-tyd visie op die loon vir dissipelskap (19:23-30). Dan daag Jesus sy dissipels uit met die gelykenis oor die arbeiders in die wingerd. (ons Skrifdeel, 20:1-16). Hulle moet so mededeelsaam teenoor mekaar wees, soos God met hulle is. Hierna neem Jesus sy dissipels eenkant en kondig ’n derde keer aan dat Hy gaan ly (20:17-19).
Binne dié konteks vertel Jesus vir sy dissipels die gelykenis van ’n grondeienaar wat van vroegoeggend af (6:00) uitgegaan het om arbeiders vir sy wingerd te huur. Jesus vertel dié gelykenis oor die wêreld van werk en ekonomie om sy dissipels te onderrig oor die aard van die koninkryk van die hemele: “Die koninkryk van die hemele is soos…” (vers 1). Vir die doel van die verhaal aanvaar Jesus die sosiale en ekonomiese mag van die grondeienaar. Hy lewer nie daarop kritiek nie, want Hy wil iets meedeel oor God. Wat wil Jesus hier aan sy dissipels meedeel en waarom sê Hy dit juis op dié punt van sy reis na Jerusalem?
Vir ’n antwoord op die vraag wat Jesus oor God wou meedeel, moet ons volgens geleerdes fyn kyk na die laaste groep werkers wat die grondeienaar gehuur het. Hy het hulle gehuur toe daar net een uur van die werksdag oor was. Op Jesus se vraag waarom hulle op dié laat uur van die dag nog nie gehuur is nie, was hulle antwoord dat niemand hulle werk aangebied het nie. Niemand wou hulle hê nie. Tog huur die grondeienaar hulle al het hulle blykbaar by niemand die indruk gewek dat hulle suksesvol sal wees as hulle gehuur word nie. Maar dié grondeienaar het hulle nie alleen gehuur nie, hy het hulle ook dieselfde loon betaal as vir die arbeiders wat van vroeg af die hitte van die son in die wingerd trotseer het. Jesus wou moontlik sy dissipels met dié gelykenis waarsku oor hulle eie houding of instelling teenoor mense.
Moontlik wou Jesus sy dissipels waarsku om nie te dink omdat hulle naby Hom was, hulle daarom vir altyd deur Jesus uitgesonder of bevoordeel sal word nie. Volgens een verklaarder is die sentrale boodskap van die gelykenis juis ’n waarskuwing oor die gevaar daarvan om sondermeer aan te neem dat aangesien Jesus die koninkryk van die hemele inbring, hulle vanselfsprekend ryk en vernaam gaan wees omdat hulle Jesus volg nie. Hulle was weliswaar van die begin af saam met Jesus tydens sy bediening, maar ander mag veel later aansluit en dieslefde loon ontvang. God se genade is nie onderghandelbaar vir mense nie. God sluit nie met ons kontrakte nie, maar verbonde. Daardeur belowe Hy aan ons alles en verwag alles van ons in ruil vir sy goedheid. Die wonder is dat God uitgaan om diegene op te soek vir wie niemand wil kies nie.
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond