In Matteus 21:28-31 vertel Jesus die gelykenis van twee seuns wat beide dieselfde opdrag van hulle pa ontvang het: ‘Gaan werk vandag in die wingerd.’ Die een seun het gesê hy wil nie, maar het tog gegaan. Die ander een het gesê hy sal, maar het nooit gegaan nie.
Dan vra Jesus die priester- en familiehoofde – aan wie Hy die gelykenis vertel het – watter van die twee seuns die gehoorsame een was. Natuurlik was dit die seun wat op die ou end gedoen het wat sy pa vra. Hierop sê Jesus:
‘… Dit verseker Ek julle: Tollenaars en prostitute gaan eerder as julle in die koninkryk van God in.’ Matteus 21:31b
Met dié gelykenis, het Jesus gesinspeel op die godsdienstiges se skynheiligheid. Hulle het die wet op die punte van hulle vingers geken en dogmatiese jargon was hulle eerste taal. Hulle was egter net so ongehoorsaam soos die seun wat met ’n ‘Goed, pa’ geantwoord het, en toe nooit sy pa se wil uitgevoer het nie.
Aan die ander hand was daar die sondaars wat eers met ’n “Ek wil nie” geantwoord het, maar op die ou end tog gehoor gegee het aan die Vader se roepstem en tot bekering gekom het.
‘Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is.’ Matteus 3:8
’n Boom word geken aan die vrugte wat voortgebring word. Net so is dit met mense. Al ken jy al die mooi Christen-sêgoed en kan jy dit glad praat, beteken dit net mooi niks as jy nie vrugte voortbring wat jou woorde staaf nie. (Luk. 6:43-45; Mat. 7:15-19)
Vrugte wat wys dat jy bekeer is, word voortgebring wanneer jy Jesus se opdrag om lief te hê prakties uitvoer:
‘Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid.’ 1 Johannes 3:18
’n Ware dissipel van Jesus volg sy voorbeeld deur in liefde vir God en mense op te tree. Dit behoort jou maatstaf te wees in alles wat jy doen.
Let in die week wat voorlê daarna op om die daad by die woord te voeg, sodat mense Jesus se liefde in jou optrede kan sien.
Geskryf deur Madeleine Venter