‘Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou.’ Psalm 32:8
Vir my is dit net eenvoudig wonderlik dat die Here gedurig besig is om sy kinders te leer. Dwarsdeur die Bybel lees ons hiervan. Dink byvoorbeeld aan hoe noukeurig Hy verduidelik het hoe Noag die ark moet bou, en Sy presiese instruksies rondom die tabernakel. In Jesaja 50:4-5, sê die profeet dat die Here hom geleer het om die regte woorde te gebruik, en hy verklaar ook in Jesaja 28:23-29 dat dit God is wat die mens geleer het hoe om te boer.
Jesus het die laaste drie jaar van sy lewe daaraan toegewy om die mensdom te leer oor God se koninkryk, en Hy belowe in Johannes 14:26 dat die Heilige Gees ons sal leer en herinner aan alles wat Hy gesê het. In Galasiërs 1:12 vertel Paulus dat Jesus Christus self die evangelie aan hom openbaar het.
As gelowiges, behoort ons dus nooit te dink dat ons nou alles weet wat mens behoort te weet nie. Is jy nederig genoeg om te erken dat daar altyd nog iets is wat jy kan leer? Of jy nou jou doktorsgraad in teologie het, ’n leeftyd lank in die bediening staan, of die Bybel reeds ’n paar keer deurgelees het. Jy tel ook onder die ‘ons’ waarvan Paulus in sy brief aan die Korintiërs praat.
‘Nou kyk ons nog in ‘n dowwe spieël en sien ‘n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.’ 1 Korintiërs 13:12
Die outeur en entrepreneur, Tim Fargo, het gesê: ‘Education is every day and everywhere, the only thing you have to pay is attention.’
Soms leer mens iets op die mees onwaarskynlikste plekke, en deur mense waarvan jy dit die minste verwag het. As grondslagfase onderwyseres en ma, kan ek byvoorbeeld ʼn paar voorbeelde noem van die ongelooflike wyshede wat kinders al met my gedeel het.
Meestal is dit juis die moeilikste tye van jou lewe waarin die grootste lesse opgesluit lê. In sy boek, The Problem of Pain, maak C.S. Lewis die volgende stelling: ‘We are, not metaphorically but in very truth, a Divine work of art, something with which He will not be satisfied until it has a certain character.’
Is dit nie wonderlik om te weet dat God wil hê ons moet die beste weergawe van onsself wees nie? Laat ons dan van nou op die uitkyk wees vir sy lesse, en daaruit leer.
‘Dit is die Here wat die wysheid gee, uit sy mond kom die kennis en die insig.’ Spreuke 2:6
Geskryf deur Madeleine Venter