Hoe laat is dit?
As kinders het ons graag “Wolf, wolf, hoe laat is dit?” gespeel. Die speletjie is seker deel van baie van ons se kleintyd herinneringe. Giggelend, versigtig en afwagtend het ons in ’n lang tou agter die wolf aangestap. “Wolf, wolf, hoe laat is dit?”
Agtuur. Geen probleem. Drieuur. Alles veilig. Seweuur. Doodreg. Tienuur. Doen so voort. Sesuur. Reg so.
Etenstyd!
Gillend het ons uitmekaar gespat. Die wolf moes sy bes probeer om ’n nuwe wolf te vang, en dan het die speletjie weer van voor af begin. Tydstip was alles. Die regte tyd was bepalend. Ons het almal gewag vir die teken voor ons reageer.
Ons is steeds geneig om te wag vir “die regte tyd”. Die regte tyd om vrede te maak, uit te reik, iets nuuts te begin, te verander, weer te probeer. Soms twyfel ons. Ons stel uit. Ons wonder. Dis nou eers tienuur. Of dalk al vieruur. Nie nou nie. Dalk later? Anderdag?
Dit herinner aan die verhaal van Jesus se verskyning aan sy dissipels, en die wonderbaarlike visvangs, waarvan ons in Johannes 21 lees. Die dissipels was, soos wat dit hulle gewoonte was, die hele nag lank met hulle skuite uit. Dit was immers die beste tyd vir visvang. Toe die dag begin breek, moes hulle onverrigter sake na die kant toe terugkeer. Met leё bote, en leё hande. Moeg. En moedeloos. Honger.
Ons kan ons die prentjie goed indink. Ook ons weet hoe omstandighede jou soms kan lam lê. Jy het gehoop dat dit anders gaan wees, dat daar tog ’n geleentheid sal wees, dat jy ’n seker teken sal kry om voort te gaan. En dan gebeur dit nie. Alles is maar soos gewoonlik. Sesuur. Doen so voort.
Jesus het op die kant gestaan, maar hulle het Hom nie herken nie. “Het julle iets te ete gevang?” het Jesus geroep. “Nee.” Die mans het hulle koppe geskud, hulle skouers opgehaal. Nie vandag nie. Toe sê Jesus iets wat hulle verras het. “Gooi die nette aan die anderkant uit.”
Ekskuus? Hoe bedoel u nou? Dit is mos nie nou die tyd daarvoor nie? Die son is tog al op? Enige visserman weet, die tyd – die geleentheid – om vis te vang, is nou verby. Dit is nou tyd om terug te gaan, die skuite te was en die nette gereed te kry vir die volgende nag. Miskien het die dissipels teruggedink aan ’n vorige geleentheid toe Jesus hulle beveel het om weer ’n keer hulle nette uit te gooi. Die groepie mans het besluit om te probeer. Hulle het oorbeweeg na die ander kant van die skuit, en die nette nog ’n laaste keer uitgegooi.
En skielik was die nette so vol blink, wriemelende visse dat hulle dit nie kon intrek nie.
“Dit is die Here,” het Petrus besef. Dit moes Jesus wees. Want Jesus se teenwoordigheid het alles kom verander. Skielik was die regte tyd, die perfekte tydsberekening, nie meer ter sake nie. Jesus het hulle gehelp om die geleentheid in die tyd raak te sien. Om die oomblik aan te gryp. Dit was ’n tyd om anders te dink en anders te doen. Gooi die nette aan die anderkant uit. Met verrassende en onverwagte resultate.
Jesus kan ook binne ons omstandighede werk. Hy kan ons verras, iets nuuts voortbring. Selfs daar waar ons dit nie verwag of daarvoor beplan het nie. Dalk is dit nou die tyd om weer te waag, nuut te probeer.
Op die strand het Jesus gestaan en wag. Die vuurtjie het gebrand. Met vis op die kole.
Etenstyd!