Agteruit die toekoms inloop
Waar herinnering en hoop mekaar ontmoet
Ons is mense wat vorentoe kyk. Ons bou horisonne voordat ons hulle bereik. Ons teken kaarte van lande waar ons nog nooit was nie. Ons gee name aan môre voordat môre aangebreek het.
Van kleins af word ons geleer om vorentoe te beweeg.
Die verlede lê agter ons, die toekoms wag voor ons, so eenvoudig, so vanselfsprekend en tog is daar iets vreemds aan hierdie prentjie, want ons kan die verlede sien.
Ons kan nie die toekoms sien nie.
Miskien het ons die rigting van tyd nog altyd verkeerd verstaan.
Die vreemde rigting van tyd
Daar is ’n Māori-spreekwoord wat hierdie eenvoudige sekerheid soos ’n klip in stil water versteur:
“Kia whakatōmuri te haere whakamua.”
“Ek loop agteruit die toekoms in, met my oë gevestig op my verlede.”
Lees dit stadig. Laat die beeld eers ongemaklik wees. ’n Mens wat vorentoe beweeg, maar agtertoe kyk, voete in die onbekende en oë op dit wat reeds gebeur het. Dit klink soos ’n teenstrydigheid, maar miskien is dit eerder ’n waarheid wat ons verleer het want die verlede is die enigste deel van tyd waarvan ons die landskap ken. Die toekoms het nog geen voetspore nie. Dit is waarom ons almal, sonder dat ons dit besef, so deur die lewe beweeg:
Ons tree die onbekende binne met ons oë op die bekende.
Die land agter ons
Dink aan die verlede as ’n landskap. Daar is berge van herinnering, riviere van verlies, vlaktes van oorwinning en grafte waar name stadig deur die tyd afgeslyt word. Daar is paaie wat ons voorouers gebou het, paaie waarop ons vandag loop sonder om altyd te vra wie die eerste voetspore daar gelaat het. Die verlede is nie dood nie. Dit leef in ons.
In ons tale, gewoontes, verse, liedere en die dinge wat ons doen sonder om te onthou waar ons dit geleer het. Ons dra meer mense in ons as wat ons besef: Voorouers, ouers, onderwysers, vriende en vreemdelinge wie se dade ons lewe verander het sonder dat hulle ooit daarvan geweet het. Ons dink ons dink alleen, maar agter elke mens staan ’n lang stoet van stemme. Ons is die voortsetting van verhale wat lank voor ons begin het.
Voor ons is daar geen voetspore nie
En dan is daar die toekoms. Geen landskap wat ons kan bestudeer nie. Geen voetspore om te volg nie. Geen herinneringe om ons te waarsku nie. Net moontlikheid. Die toekoms is ’n donker vertrek waarin ons elke oggend wakker word. Ons steek ’n lig aan, maar dit verlig net ’n paar tree. Verder is daar skadu en tog loop ons. Dit is een van die groot misteries van menswees:
ons beweeg voortdurend in die rigting van dit wat ons nie kan ken nie.
Ons noem dit hoop. Ons noem dit geloof. Ons noem dit beplanning. Ons noem dit vooruitgang. Ons moet die onbekende betree sonder om dit vooraf te kan sien. Miskien is een van die grootste gevare van ons tyd nie dat ons te min van die toekoms weet nie. Miskien is dit dat ons te veel van die verlede verloor.
Ons leef in ’n era wat die nuwe aanbid. Nuwe tegnologie, nuwe idees, nuwe market, nuwe stelsels, nuwe maniere om vinniger te beweeg. Ons het begin om “nuut” en “beter” asof dit dieselfde woord is, te gebruik. Die nuwe is nie noodwendig wys nie en die oue is nie noodwendig verouderd nie. ‘n Boom is oud omdat hy lank geleef het en dit maak hom nie irrelevant nie. Ons noem hom ’n woud. Waarom doen ons dit dan met menslike wysheid? Waarom verbeel ons ons dat iets sy waarde verloor bloot omdat dit deur baie winters gegaan het? Daar is kennis wat nie verouder nie, waarhede wat nie uit die mode raak nie en daar is wysheid wat juis dieper word omdat dit deur geslagte heen getoets is.
Om terug te kyk beteken nie om terug te aan nie. Dit beteken om te luister en te vra:
Wat het hulle geweet wat ons vergeet het?
Wat het hulle verstaan van grond? Van gemeenskap? Van behoort? Van stilte? Van verantwoordelikheid? Van die heilige? Wat het hulle geweet van die eenvoudige dinge wat ons, in ons haas om meer te hê, verloor het? Miskien is die verlede nie ’n plek waarheen ons moet terugkeer nie. Miskien is dit ’n stem wat ons weer moet leer hoor. Daarom hoef vernuwing nie ’n oorlog teen die verlede te wees nie. Ware innovasie kan soms ’n vorm van herinnering wees en ’n ou beginsel kan ’n nuwe antwoord word. ’n Vergete praktyk kan weer betekenis kry, ’n voorvaderlike wysheid kan in ’n nuwe wêreld asemhaal. Ons hoef nie altyd iets nuuts uit te vind nie. Soms moet ons iets ouds onthou.
Die belangrike vraag is dan nie bloot:
Wat kan ons verander? Maar: Wat behoort ons te behou? Wat moet ons los? Wat moet ons herstel? Wat moet ons beskerm? Wat moet ons aan die volgende geslag oorhandig? Miskien is dit die ware kuns van vooruitgang juis om te weet wat verander mag word — en wat nooit verlore mag gaan nie. Ons leef op ’n merkwaardige plek in tyd. Agter ons lê alles wat reeds gebeur het, voor ons lê alles wat nog kan gebeur. Ons is die oomblik tussen herinnering en moontlikheid, die brug tussen wat was en wat nog moet wees. Ons is nie die begin nie. Ons is ook nie die einde nie. Ons is die middel en miskien is dit waarom nederigheid noodsaaklik is, want ons is geneig om te dink dat die wêreld met ons begin, dit doen nie. Ons is geneig om te dink dat die wêreld met ons sal eindig. Dit sal ook nie. Ons is net vir ’n kort rukkie die draers van die fakkel.
Iemand het die vuur aan ons gegee. Ons weet dalk nie meer wie die eerste hand was nie. Ons ken nie al die name nie, maar die vlam het deur die donker gekom. Van hand tot hand, van geslag tot geslag. Sommige het dit beskerm, sommige het dit amper verloor, sommige het dit gebruik om ander te verbrand maar altyd was daar iemand wat dit weer opgetel het. Nou brand dit in ons hande. Dit is ons beurt. Nie om die wêreld perfek te maak nie, nie om alles te verstaan nie maar om die vlam helder genoeg te hou vir dié wat ná ons kom. Ons erfenis is immers nie slegs wat ons ontvang nie. Dit is ook wat ons nalaat.
Miskien is dit wat die Māori-beeld uiteindelik vir ons leer. Om agteruit die toekoms in te loop, beteken nie om in die verlede te woon nie. Dit beteken om die onbekende met herinnering binne te gaan, nie blindelings vorentoe te storm nie, nie elke grens te breek bloot omdat ons dit kan nie, nie elke ou waarheid te verwerp bloot omdat dit oud is nie. Dit is om die toekoms binne te stap met die wysheid van wat reeds bekend is. Om jou voete in môre te plaas sonder om gister te vergeet. Om te verstaan dat elke nuwe dag uit ’n vorige dag gebore word, dat elke kind ’n verhaal erf voordat hy sy eie begin skryf en dat elke beskawing op die skouers van ander staan en dat elke mens, hoe groot sy naam ook al mag wees, uiteindelik weer deel van die verlede sal word.
En God?
Maar dalk gaan die gedagte nog dieper want as die toekoms vir ons verborge is, beteken dit nie dat dit vir God verborge is nie. Ons sien die volgende tree, Hy sien die pad. Ons sien die donkerte, Hy sien waar die lig reeds wag. Ons ken die vraag, Hy ken die antwoord. Miskien is geloof daarom nie die vermoë om die hele pad te sien nie. Miskien is geloof die moed om die volgende tree te gee wanneer die res van die pad nog in God se hand is, om te vertrou wanneer die horison verdwyn, om voort te gaan wanneer begrip ophou. Nie omdat ons weet wat môre bring nie, maar omdat ons weet wie ons deur môre dra.
Hou die fakkel vas
Ons sal nooit die hele pad sien nie. Geen mens kan nie, maar miskien was ons nooit bedoel om dit te sien nie. Miskien is dit genoeg om die volgende tree te ken, om te onthou waar ons vandaan kom, te onderskei wat ons nie weer wil verloor nie, om te eer wat voor ons gekom het, om versigtig te wees met dit wat aan ons toevertrou is en om die wêreld agter te laat as wat ons dit ontvang het, want uiteindelik beweeg ons almal na ’n plek wat ons nog nooit gesien het nie. Ons tree die toekoms binne sonder ’n kaart, maar ons hoef nie sonder ’n kompas te wees nie. Die verlede gee ons die rigting, herinnering gee ons diepte, geloof gee ons moed en die liefde gee ons rede om aan te hou.
So loop, nie haastig nie, nie roekeloos nie maar wakker, met jou voete in die onbekende en jou geheue naby en wanneer die pad voor jou verdwyn … hou die fakkel vas. Jy dra dit nie net vir jouself nie. Jy dra dit vir diegene wat voor jou geloop het en vir diegene wie se eerste tree nog moet kom.
Kia whakatōmuri te haere whakamua – Ek loop agteruit die toekoms in,
met my oë gevestig op my verlede.
Miskien is dit nie ’n vreemde manier om deur tyd te beweeg nie. Want die mens wat weet waar hy vandaan kom, hoef nie die toekoms te vrees bloot omdat hy dit nie kan sien nie. Hy kan loop. Hy kan vertrou. Hy kan die fakkel dra en wanneer sy eie voetspore eendag verdwyn, sal die lig wat hy bewaar het, steeds verder gaan.
Geskryf deur Wynand Olivier