“As ek ´n ‘super power’ kan kies, sal ek kies om te kan ‘teleport’,” sê ´n vriendin nou die dag vir my. “Dink net, as jy so binne ´n oogwink jouself kan verplaas na enige plek in die wêreld.” Haar dogter sal graag met diere wil praat, vertel sy, maar sy sal eerder die land en die wêreld rond rits sonder om veel meer as ´n oog te knip.

Dit klink vir my ook soos ´n (bonatuurlike) droom – slaggate en rye trokke is genoeg om enigeen se vakansielus te blus. En met familie en vriende wat oraloor die wêreld bly (en brandstofpryse en visums en vliegkaartjies wat alles net bemoeilik), sal ek ook bakhand staan as daardie “super power” uitgedeel word. As ek ´n “super power” kan kies, het ek daar en dan besluit, sal ek ook graag wil “teleport”.

My kinders het my eerste aan “teleport” (of teleportasie) en “portals” (of portale) bekendgestel. Aanvanklik was dit vir my ´n effens vreemde begrip, iets wat meer by hedendaagse tieners en hulle rekenaarspeletjies pas. As kind het ek met Dorothy, Toto en haar rooi skoene kennis gemaak (“there is no place like home”), maar verder, het ek gevoel, was my kennis en ondervindings van dié fantasie onderwerp maar effe beperk.

Maar toe herinner ´n ander vriendin my aan die Bybelverhaal in Handelinge 8 van Filippus wat die een oomblik nog die evangelie aan iemand uit Etiopië verkondig het, en die volgende oomblik in die stad Asdod was. Die verhaal stop daar en laat ons twee met baie vrae. Hoe het hy gevoel, wonder ons? Wat het deur sy gedagtes gegaan? Wat kon hy van die hele ervaring onthou en verstaan? Moes hy eers ´n oomblik gaan sit om tot verhaal te kom? Moes hy rondvra om te hoor waar hy is? Het hy gewonder wat hy daar moes doen, en hoekom hy so blitsvinnig daar moes kom?

En Petrus. Petrus wat vasgeketting in die middel van die tronk was (om na alle verwagtinge gemartel en tereggestel te word) en dan in die middel van die nag skielik voel hoe die kettings van sy hande en voete afval. ´n Engel het hom uit die tronk tot in die straat gelei, en dit was eers toe Petrus die vars aandlug voel dat hy besef het wat werklik gebeur het. Hoe blink moes die sterre nie daardie aand vir Petrus gelyk het nie! Hoe kosbaar nie die verbaasde gesigte van die medegelowiges wat in gebed volhard het nie.

Ewe wonderlik was Paulus en Silas se bevryding uit die tronk. ´n Aardbewing wat daartoe gelei het dat die kettings los op die grond val, die tronk se deure oopbreek, en dat die tronkbewaarder en sy hele huishouding se lewens daardie nag totaal en al verander.

Ons het nie ´n “portal” nie, en ons kan nie “teleport” nie. Maar ons ken die poort- die weg, die waarheid en die lewe. Ons ken die pad na die ewigheid, na ´n ewige tuiste saam met God. En net soos my kinders se speletjies, waar jy die een oomblik hier en dan skielik daar is, gee dit ons ´n blik op ´n totaal ander en wonderlike wêreld. ´n Wêreld sonder lyding en swaarkry, pyn, siekte en oorloë. ´n Wêreld waar God se ewige heerlikheid en heerskappy duidelik sigbaar is.

Die gedagte aan die ewigheid  is ook nie iets wat op “eendag” van toepassing is nie. Ons kettings is ook los, en ons kan nou reeds iets van daardie ewige heerlikheid, die nabyheid en troos van God, ervaar in elke gewone dag wat ons hier op aarde voortleef. ´n Gewonde dag, met sy gewone ritmes, kan heeltemal verander wanneer ons skielik van die teenwoordigheid van God in ons daaglikse doen en late bewus word.

Dit is verseker bonatuurlik. Maar dit is geen fantasie nie. Dit is ´n vaste versekering vir elkeen wat glo.

Geskryf deur Susan Goosen