Dit is nogal nie so maklik om ´n aartappelbos (Phyllanthus reticulatus) te sien nie. Selfs wanneer jy daarvoor soek, is dit dikwels maklik om hierdie effe onopsigtelike rankplant mis te kyk of verkeerdelik te identifiseer. Die reuk is egter onmiskenbaar.
In ons deel van die wêreld identifiseer ek dit met laat middag wildritte, skemerkelkies en sonsondergange. Dit is juis in die koeler wintermaande, so rondom skemertyd wanneer die dag tot bedaring kom, wanneer die sterk en heerlike reuk van gekookte aartappel jou aan die teenwoordigheid van een van hierdie plante herinner. Die reuk van aartappelbos in ons tuin en my al menigmaal geïnspireer om dadelik ´n bak aartappelslaai vir aandete te maak.
Daar is ander reuke wat my eweneens inspireer en sterk herinneringe wek: koffie, kaneel, suurlemoen, boontjiesop, vars vis, jasmyn en babapoeier, om maar paar te noem. Reuke wat jou gedagtegang onderbreek en soms binne sekondes jare terug in tyd neem. Daar is trouens ´n wetenskaplike verduideliking vir die sterk konneksie tussen reuke en herinneringe wat verklaar hoekom reuke soveel nostalgie bring (en my telkens inspireer om aartappelslaai te maak).
Natuurlik is daar ook reuke wat minder aangenaam of selfs spanningsvol is. Die reuk van die hospitaal wat herinner aan ´n geliefde wat ernstig siek was, die muf reuk van ´n kamer wat lank toegestaan het of klere wat beslis ´n dringende was kort.
Ek weet nie of Paulus enige aardse reuke in gedagte gehad het toe hy in sy tweede brief aan die Korintiërs die kennis van God, en die dade van gelowiges, met ´n aangename reuk vergelyk het nie. Die prentjie wat hy skets is egter baie treffend. Net soos wat reuke ons kan laat verlang na ouma se boontjiesop, vakansies by die see of wintermaande om die kaggel, kan ons dade en woorde die mense rondom ons herinner aan God: sy liefde, sy genade en die hoop wat sy roeping inhou. ´n Vriendelike glimlag, ´n bord kos of ´n drukkie kan mense herinner aan die voorbeeld wat Jesus gestel het toe Hy na sondaars en randfigure uitgereik het. Dit kan mense inspireer om mekaar opnuut weer raak te sien.
Die teendeel is ongelukkig ook waar. Negatiwiteit, liefdeloosheid en oordeel sal mense wegstoot, net soos wat slegte reuke ons gespanne maak en teen gevare waarsku.
In sy brief aan die Filippense sê Paulus dat die bydrae en hulp wat hy ontvang het vir God ´n lieflike reukoffer is. Dit het as’t ware die lug met ´n aangename reuk gevul, iets wat God behaag het.
Ons getuienis kan mense in hulle spore laat omdraai en anders oor die lewe laat dink. Selfs ´n eenvoudige gebaar kan, net soos die kenmerkende reuk van vars gebakte brood (of aartappelbos), iemand in sy spore stuit en anders oor hulle dag en uitdagings laat dink. Ons getuienis is kragtig, dit bring lewe. Dit is onmiskenbaar. En dit kan verrykende gevolge hê.
Geskryf deur Susan Goosen