Ek hoor gereeld in ´n geselskap die naam van ´n Bybelkarakter wat iemand graag in die hemel sal wil ontmoet. Sou ons ooit die geleentheid hê, wonder ons soms? Wat sou jy graag vir Paulus wou vra? Of Petrus? Of Dawid, Noag, Moses of Abraham? Groot name, maar terselfdertyd regte mense, met regte stories. Stories wat ons so goed ken dat ons dalk vergeet het om te wonder hoe die wêreld deur hulle oë gelyk het en hoe hulle God as hulle Vader leer ken en ervaar het.
Ek sou graag vir Rut wou ontmoet.
Haar kort Bybelboek is een van my gunstelinge – dit lees soos ´n goeie draaiboek. Maar natuurlik is dit nie die geval nie. Rut het geen idee gehad hoe haar storie sou afspeel nie. Sy kon nie haar terugslae kies nie, maar wel hoe sy daarop sou reageer. Dit herinner ´n bietjie aan die storieboeke wat ek as kind gelees het waar mens tot ´n mate self die einde van die storie kan bepaal. “Indien jy by die deur ingaan, blaai na bladsy 43. Indien jy besluit om te wag, blaai na bladsy 52.”
Rut het nooit kon voorspel dat haar storie met die van die goedhartige Boas verweef sou word en dat sy die trotse ma van die seuntjie Obed sou word nie. En sou sy in haar wildste drome ooit kon raai dat haar naam in Jesus se geslagsregister verewig sou word?
Nee, by elke vurk in die pad, by elke opdraand en elke uitdaging het Rut bloot vasberade gekies vir dit wat reg is. En sy het geglo dat God haar keuses sou seën. Na haar man, swaer en skoonpa se skielike dood het Rut gekies om by haar skoonma te staan en haar te ondersteun, selfs toe Naomi besluit het om terug te trek na haar land en haar mense. “U volk is my volk,” het sy gesmeek, “en u God is my God.” Tou opgooi was nie ´n opsie nie. Omdraai ook nie.
Dit was ´n moeilike en hartseer ervaring vir die twee vroue, maar tyd vir selfbejammering was daar nie. Soos baie vasberade vroue deur baie eeue het Rut raakgesien wat volgende gedoen moet word, en dit gedoen. Jy kan altyd iets doen, en dit het Rut gedoen. Sy het gaan soek, gaan werk, mense leer ken, ´n netwerk gebou, ´n tuiste help skep. Sy was gehoorsaam, afhanklik, dankbaar, kreatief en ywerig.
God het haar keuses, haar lojaliteit, haar hart en haar ywer geseën. Uiteindelik het sy die verloop van die geskiedenis verander en word mense vandag nog deur haar storie van waagmoed geseën.
In Vrouemaand wil ek vir Rut onthou. Ek wil ´n paar kilometer in haar skoene stap en my lewe en uitdagings met dieselfde gesindheid en wenresep aanpak. Die regte keuses, elke keer, elke dag, sal steeds ons stories beïnvloed en lewens oor grense en selfs deur geslagte aanraak.
Boas se woorde en seëngebed vir Rut is ook vir ons waar. Die Here, die God van Israel, onder wie se vlerke ons skuil, sal ook vir ons seën en ons ten volle beloon.
Geskryf deur Susan Goosen