‘Aan God kom ons dank toe – Hy wat aan ons die oorwinning oor die sonde en die dood gee deur Jesus Christus ons Here!’ 1 Korintiërs 15:57 NLV
So aan die begin van die Heilige Week, kan ’n mens nie anders as om weereens bewus te word van dít wat Jesus vir ons gedoen het nie.
Toe Hy op die donkie se rug Jerusalem binne gery het, het Hy baie goed geweet wat vir Hom voorlê. Hy het selfs aan sy dissipels gesê:
‘“Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe. Daar sal die Seun van die mens aan die priesterhoofde en skrifgeleerdes oorgelewer word, en hulle sal Hom tot die dood veroordeel. Hulle sal Hom uitlewer aan die heidene, wat Hom sal bespot en gesel en kruisig. En op die derde dag sal Hy uit die dood opgewek word.”’ Matteus 20:18-19
Dit was sy keuse om jou sondeskuld te betaal, sodat jy lewe in oorvloed kan hê. (Joh.10:10;18)
Sonde loop uit op dood. Dit is die prys wat daarvoor betaal moet word – die skuld wat jy dra. Jesus het jou egter vrygekoop deur daardie prys namens jou te betaal. Nou oorskadu die las van daardie skuld nie meer jou lewe nie. En dít is die rede waarom jy nou voluit kan leef.
Dankbaarheid is ’n kenmerk van ’n lewe wat voluit geleef word. Wanneer jy dankbaar is, is jy tevrede en geniet jy dit wat jy het. Jy begeer nie ander se lewens nie, want ’n dankbare mens mors nie tyd met selfbejammering nie.
Terwyl jy in hierdie week wat voorlê stil word, en werklik gaan dink oor die duur prys wat Jesus Christus vir jou lewe betaal het, mag jou hart oorloop van dankbaarheid teenoor jou Hemelse Vader, jou Verlosser en sy Heilige Gees. En mag jy jubel en dans voor sy troon.
‘Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.’ 1 Tessalonisense 5:18
Geskryf deur Madeleine Venter