Dit is vir my betekenisvol dat God, toe Hy die wêreld in die begin van tyd gemaak het, eers lig gemaak het. “Laat daar lig wees. En daar was lig. Die lig was vir God goed.”
Ons het lig nodig. Ons sukkel wanneer ons in die donker moet rondtas. Dit maak ons bang en onseker. Laat daar eerder lig wees. Dat ons kan sien. Lig is goed.
“U woord is ’n lamp vir my voete en ’n lig op my pad,” het Dawid geskryf. Ons toekoms mag onseker wees, maar dit hoef nie donker te wees nie. Ons het dié Lig by ons. Ons moet ook die lig wees. “Julle is die lig vir die wêreld,” sê Jesus in sy Bergpredikasie. “Die lig wat in julle leef moet vir almal duidelik en sigbaar wees. Julle moet ligdraers wees.”
Wanneer ons aan die begin van ’n nuwe jaar staan, is dit goed om onsself aan die lig te herinner. Want ons voel dalk onseker. Onwillig. Bang. Soms is ’n nuwe begin vol belofte en ander kere, wel, ander kere is dit maar wankelrig.
Naomi moes twee keer oor begin. Die eerste keer het sy en haar man, Elimelek, en hulle twee seuns uit Betlehem na Moab getrek weens ’n groot droogte in hulle eie land. Die gesin was bereid om weer te begin, weer te probeer. Saam sou hulle die uitdagings oorkom. Hulle het saam ’n nuwe toekoms in die nuwe land begin, nuwe vriende gemaak. Die twee seuns het selfs met meisies van daardie land getrou.
Maar toe trek die rampe hulle. Eers het Elimelek, en daarna ook die twee seuns, Maglon en Kiljon, gesterf. Skielik was Naomi vroualleen met haar twee Moabitiese skoondogters. Die toekoms het seker baie donker gelyk. Platgeslaan het Naomi besluit om terug te keer na haar geboortedorp. Sy sou weer moes begin.
Rut, haar een skoondogter, het saam met haar gegaan. Ten spyte van al die terugslae, het sy die lig in Naomi erken. “U God is my God,” het sy gesê. “Waar U gaan sal ek gaan. En waar u begrawe word, sal ek begrawe word.”
So het die twee vroue hulle terugtog begin en uiteindelik weer in Betlehem aangekom. Dié nuwe begin was maar effe wankelrig. Onseker. “Moenie my Naomi noem nie,” het Naomi sonder ’n sweem van ’n glimlag vir haar ou vriendinne gesê. “Noem my maar Mara. Want my lewe is bitter.”
Maar daar was ’n ligpuntjie. ’n Silwer randjie vir hulle grys wolk. Rut het besluit om te gaan are optel op die lande, en het toevallig by Boas, ’n familielid en losser beland. En Boas wat die lig in Rut erken het, het na haar en haar skoonma uitgereik. Hy het vir Rut kos, heenkome en beskerming aangebied. En later, binne God se groot plan, het hy haar ook sy hand in die huwelik aangebied. Hy sou sy verpligting as losser teenoor Elimelek se familie nakom. Uit die huwelik is baba Obed, die oupa van koning Dawid, gebore. Die man uit wie se nageslag die Lig en Verlosser van die wêreld gebore sou word.
Dalk is jou nuwe jaar vol belofte en nuwe geleenthede. Of dalk is dit onseker. Wankelrig. Dalk is jy soos Naomi onwillig om weer te begin. Oor te begin.
Kom ons herinner mekaar hier aan die begin aan die lig waarvan Johannes skryf. “In Hom was daar lewe, en dié lewe het gedien as lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, ja – die duisternis het dit nie uitgedoof nie!” En: “As ons optrede van dié lig getuig, leef ons soos Hy wat in die lig is en het ons volledig deel aan mekaar. Die duisternis is immers aan die verbygaan en die lig wat die waarheid bring, skyn alreeds.”
Ons het die lig. Ons kan van die lig getuig. Die duisternis is reeds oorwin. En daarom kan ons die nuwe jaar, met al sy uitdagings, met vertroue binnegaan.
Daar sal lig wees.