‘Ek is nie ‘n God wat net naby is nie, sê die Here, Ek is ‘n God wat ook ver weg is.’ Jeremia 23:23
Wanneer jy met ’n makro-kameralens op ’n voorwerp fokus, sien jy detail wat nie met die blote oog gesien kan word nie.
Veronderstel jy fokus in op ’n klein hoekie van ’n skildery. Dit sal eintlik nogal heel indrukwekkend wees. Jy sal die tekstuur van die verf kan sien en ook hoe die skilderdoek aanmekaar geweef is – en dit sal inderdaad ’n kunswerk op sy eie wees. Dit sal egter nie vir jou enige sin maak tensy jy verder wegbeweeg sodat jy die hele skildery kan sien nie.
Ons lewe hier op aarde is soos om deur ’n makro-kameralens na God se groter plan te kyk. Dit wat ons nou sien maak nie vir ons sin nie, want ons kan nog nie die hele kunswerk sien nie.
God het egter in sy genade vir ons ’n leidraad gegee van hoe hierdie volledige kunswerk lyk – van wat die einddoel is – en dit kry ons in Romeine 8:28-30.
Vers agt en twintig is baie bekend:
‘Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir hulle wat Hom liefhet, vir hulle wat volgens sy voorneme geroep is;’ Romeine 8:28 AFR20
Dit moet egter in konteks gelees word om reg te verstaan te word.
God laat nie alles reg uitwerk sodat jou lewe hier op aarde beter kan wees nie. Sy groter plan is veel meer as dit. Luister wat sê vers nege en twintig:
‘want Hy het hulle wat Hy reeds tevore geken het, ook vooruit bestem om gelykvormig aan die beeld van sy Seun te word, sodat Hy die Eersgeborene onder baie broers kan wees;’ Romeine 8:29 AFR20
Die doel is dus om jou al hoe meer soos Jesus te laat lyk sodat jy deel van sy groter kunswerk kan wees:
‘en diegene wat Hy vooruit bestem het, het Hy ook geroep; en diegene wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek; en diegene wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.’ Romeine 8:30
God se groter plan is ’n mensdom, vrygekoop van sondeskuld, wat vir ewig saam met Hom in die nuwe skepping woon. Dít is wat Hy vir jou beplan, en dit is die “alles ten goede” wat Hy laat meewerk vir die wat Hom liefhet. Op die ou end gaan jou verheerliking daarin wees dat jy ten volle aan sy Seun se beeld gelyk is.
Dit is belangrik om daarop te let dat hier in die verlede tyd geskryf word. Asof dit reeds gebeur het. Dit is omdat God nie net elke klein detail van naderby sien nie, maar ook die hele, volledige plan van ver af.
As jy nou deur ’n moeilike tyd gaan, skep moed uit Rom. 8:28. Sy einddoel is glorieryk en jy is deel daarvan.
Geskryf deur Madeleine Venter