It is the ability to choose which makes us human. – Madeleine L’Engle
Sekerlik die grootste voorreg wat ons mense het, is om te kan kies. Om te kan besluit waar en waarheen en wanneer ons gaan. Waarmee ons besig gaan wees en hoe ons wil lewe. Sommige besluite gebeur al sonder om twee keer te dink, en ander vat ‘n bietjie meer binnewerk. Maar dit bly ‘n groot deel van ons dag en ook meestal ‘n refleksie van ons karakter.
Soos Madeleine tereg sê, is dit juis ons reg om te kies, wat ons mens maak, wat ons menswees bepaal.
Die ander kant van hierdie voorreg-munt is dat besluite ook saam met groot verantwoordelikheid kom. Een van my gunsteling sê-dinge is dat elke aksie, ‘n reaksie het. My vrou glo egter dis nie waar vir lekker sjokeladekoek en haar heupe nie.
Ongeveer 18 maande terug, sit ek op my eie, met ‘n stuk papier en ‘n pen en ek begin net skryf wat in my kop kom. Ek probeer vir myself weer ‘n slag wys wat is my droom, waarmee is ek besig en waarmee wil ek graag besig wees. Op daardie tydstip het ek eintlik ‘n knop op my maag gehad. Ek was werkloos, het die besighede verkoop en ‘n groot vraagstuk gehad oor my doel vir die lewe. Twee vol folios later het ek nuwe idees en spoggerige planne gemaak. Van hulle was nogal oulik maar met ‘n tweede kyk het ek ook besef wat het nie die spreekwoordelike ‘cut’ gemaak nie.
Ons is so geneig om ons denke te laat oorheers met die dinge waarmee ons op die oomblik besig is – hier en nou, die hede. In baie opsigte moet dit so wees want om bekommerd te wees oor more is soos om ‘n stoel te wieg – dit gee jou iets om te doen, maar jy kom nêrens. En om te tob oor gister ketting ons vas aan spyt en skuldgevoelens. Ek verwys na die besig wees met die hede, dat ons, ons eie passies en drome opsy skuif.
My lys het niks gehad van teologie, kerk, of werk vir die Here nie. Ek het net vasgehak by restaurant en redding van besighede en hoe ons toeriste kan lok. Hoewel ek weet dat hier diep binne my, die Here met ‘n gryskoparend se verskynsel my roeping al lankal op my hart graveer het.
Is dit nie so maklik om onsself heeltyd besig te hou met die dinge wat oorlewing verseker nie?
The ability to choose cannot be taken away or even given away – it can only be forgotten. – Greg McKeown
Hierdie woorde maal deur my wese. Wat laat my vergeet? Toe ons jonger was het ons geweet dat dit net logies is om te kan kies. God het ons immers so gemaak, Hy het ons van die begin af die vermoë gegee om te kan kies. My lewe is gekoppel aan die feit dat ek 10 jaar terug, die keuse gemaak het om uit die bediening te tree en om ‘n ander rigting in te slaan. Ek het nie werk gehad nie en ‘n geleentheid om in die toerisme bedryf in te gaan, het oor my pad gekom. Jy kan ook sulke momente in jou lewe onthou, want ons almal beleef hulle.
Emosioneel was daar geen ander keuse nie, want ek wou nie as die werklose dominee bekend staan nie. Dit is hier waar ek tot die besef gekom het dat die feit dat ek geweier het om ‘n keuse te maak teen die toerisme bedryf, ek in werklikheid vir die toerisme bedryf gekies het. Nie omdat ek werklik daar wou wees nie, nie omdat ek werklik die passie vir dit gehad het nie, maar omdat ek in werklikheid myself geen ander keuse gelaat het nie!
As ons die vermoë om te kies prys gee – gaan iets of iemand anders dit namens jou doen. Besluiteloosheid is ook ‘n keuse.
My introspeksie het gelei na harde vrae en dringende antwoorde. Ek het myself weer beskikbaar gestel vir die Here, en die res is geskiedenis. Ek leef weer met passie en oortuiging, want dit is waar ek hoort.
Daar is gewoonlik opsies beskikbaar, maar net ‘n besluit maak van ‘n opsie ‘n realiteit. Die besluit aktiveer outomaties die volgende stap. Dit is bevrydend om te weet dat al het ons nie kontrole oor al die opsies nie, het ons kontrole oor ons keuses. My vrou se ander gunsteling sê-ding is:
The only thing in life you can really control, is your effort and your attitude.
Makliker gesê as gedaan.
Het jy al ooit die gevoel gehad dat jy stagneer omdat jy glo dat jy nie ‘n keuse het nie? Het jy al ooit die spanning beleef binne jou eie menswees omdat jy vashou aan twee teenstellende geloofsoortuigings:
“Ek kan nie hierdie doen nie” en “Ek moet hierdie doen”?
Het jy al ooit jou vermoë om te kies, stukkie vir stukkie opgegee en jouself toegelaat om blindelings agter ‘n saak of ‘n persoon aan te loop?
As die Antwoord JA is, jy is nie alleen nie!
Vir te lank in ons lewens, het ons ‘n oorbeklemtoning geplaas op eksterne aspekte van ons keuses (ons opsies) en het ons ‘n onderbklemtoning geplaas op ons interne, ingeboude vermoë on keuses te maak (ons aksies).
Opsies kan weggevat word, maar ons vermoë om te kies, ons vrye wil, kan nie weggeneem word nie.
Ons vergeet ons kan kies. Hoe gebeur dit?
Dit gebeur wanneer ons die proses van hulpeloosheid leer, die slagoffer mentaliteit aanneem. Seligman en Maier het die proses verduidelik tydens hul studie met Duitse Herdershonde. Hulle het die honde in drie groepe verdeel. Die eerste groep is in ‘n harnas gesit, waar hulle met lae frekwensie elektrisiteit geskok is. In hulle hok was daar ‘n hefboom wat hulle kon trap sodat die skokke nie meer plaasvind nie.
Die tweede groep het dieselfde harnas gedra en het dieselfde hefboom gehad, maar die hefboom het nie gewerk nie, so die skokke kon nie gestop word nie. Die derde groep het ‘n harnas gedra maar geen skokke is gegee nie.
Later is die honde in afsonderlikke groot houers geplaas, waar die houer se een helfte skokke gegee het en die ander helfte nie. Tussen die twee helftes was ‘n lae afskorting. Die honde wie die skokke vroeër kon stop met die hefboom, of geen skokke ontvang het nie, het baie vining oor die afskorting geklim na die kant waar daar geen skokke was nie.
Die groep wat nooit hulle skokke kon stop nie, het nooit oor die afskorting geklim nie en het maar net die skokke aanvaar as die gegewe.
Hoekom het dit gebeur?
Hulle het gelate aanvaar en hulpeloosheid geleer.
Keuses is nie maklik nie, verseker nie. Om ‘n keuse te maak beteken dat ek nee sê vir baie ander opsies en soms skokke kry en oor afskortings moet klim. Maar as kinders van God, het ons altyd ‘n keuse. Jesus aan die kruis het vir ons daai keuse gegee. Ons mag en ons moet kies, want dit is vrye wil.
Om ‘n keuse te kan maak, is deel van die essensie van mens wees!
My first act of free will shall be to believe in free will. – William James
Die dag wanneer ons vergeet dat ons kan kies, is die dag wat ons hulpeloos word. Moenie toelaat dat jou vermoë om te kan kies stukkie vir stukkie van jou weggevat word nie.
Hou op om te sê: “Ek moet”
Beginne sê: “Ek besluit om”
Geskryf deur Wynand Olivier