Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

Ons het ‘n tradisie van storievertel in ons huis. Hul gunsteling is Bloues en Rooies. Dis stories wat deur pappa opgemaak word soos die aand vorder.   Ek moet nogal kophou met die karakters wat meer word om die entoesiasme ook meer te maak. Maar ons lag baie en my gesiggies is pure vreugde. Ons vertel ook Bybelstories omdat ons met ons hele wese glo dit is waar die liefde vir God en Sy liefdesverhaal begin.

Wat is dan lekkerder as op die bed “snuggle” en ‘n storie hoor?

Stories van wonderwerke, slange wat praat, bloedrooi appels en kaal mense in die tuin. Stories van mense wat genees word, pes onder die diere en opstaan uit die dood. Van skaapwagters, boomklimmers en soldate. Stories van water uit ‘n put, onder die sterre slaap en diere op ‘n ark. Die storie van Jesus wat aan die kruis sterf sodat ons kan leef?

Een van hierdie verhale kom so van kleins af met ons saam – die reus, die skaapwagter en sy slingervel. Ja die verhaal van Dawid en Goliat is in elke Kinderbybel en dagstukkie reeks, daar is selfs ‘n paar liedjies oor hulle geskryf.

“…toe tel Dawid, vyf klippies op en hy gooi die reus, teen sy neus…”

So paar weke terug gesels ek en ‘n vriend oor hierdie verhaal. Hy laat my diep dink en my gemoed is besig oor die storie so ek gaan lees weer, eintlik lees ek sommer ‘n paar keer weer.

In 1 Samuel 17 vertel dit hoe Goliat, Saul se weermag verkleineer het. Hy was 3 meter lank en die bo-baasvegter van die Filistyne. Elke dag kom Goliat uit sy tent en daag die weermag van Israel uit. Hy daag hulle uit om een vegter te stuur om teen hom te veg, sodat hulle kan bepaal wie is wie se slawe en wie die veldslag wen. Hy spot baie fyn as hy sê: “Hoekom het julle ‘n gevegslinie opgestel? Is ek nie ‘n Filistyn en julle almal Saul se slawe nie?”

Dawid kom daar aan met kos vir sy broers wat deel was van die weermag van “slawe”. Hy kom van buite die oorlog situasie en staan verbaas omdat God se uitverkore volk, net sit en luister na die aanmerkings en beledigings wat Goliat na hulle spoeg.

Hoekom doen Saul niks? Hoekom doen die Israeliete niks? God het hulle uitgekies en Hy het die vyand reeds in hul hand gegee en hier staan en sit hulle in die hoekie van die tent. Want die reus is groot en sterk!

Die Woord vertel vir ons dat Saul ‘n groot man was, hy was ‘n kop langer as enige man in sy weermag! Hoekom veg hy nie teen die reus nie? Hoekom doen of sê hy niks? Dawid kan nie glo dat niemand iets doen nie. Hy staan toe op met sy slingervel en 5 klippies en stap die reus tegemoet. Hy kan nie net sit en kyk hoedat die heiden sy God beledig nie. Hy stap tot voor die reus en maak dit duidelik dat hy in die naam van God kom en…ja die res is geskiedenis!

Met dof sware plof, val die reus in die stof…

As ek rondom my kyk, staan ek verstom want ons is weer daar. Weer by ‘n plek waar die mag en gesag van God uitgedaag word. Ons volg die wêreld slaafs na, nee ons is die slawe van die wêreld. Ons sit terug in ons eie hoekies en wonder wie iets gaan doen, want ek myself gaan nie.

Waar is die leiers? Waar is Saul toe sy volk na ‘n koning smag? Waar is ons, die kinders van die lewende God terwyl die wêreld skree vir hulp?

Iewers moet ek die moed hê om die liefde van God uit te leef, al is dit teen die stroom, al is dit nie wat mense wil hoor nie, want ek kan nie langer stilbly nie. Ek kan nie langer net glo dat ek ‘n slaaf is nie. Ek kan nie langer die leuen glo wat elke dag aan my voorgehou word as die waarheid nie, as ‘n gegewe nie. Die probleem is dit; as ek elke dag hoor dat ek oudtyds is, dat ek oudmodies is, dat ek ‘n slaaf van ‘n mooi storie is, en ek kies om te luister, dan glo ek dit. Ek glo dat Jesus ‘n mite is en dat die Bybel net verhale is, want ek begin die leuen leef, soos die soldate van Israel.

Ek ken ‘n verhaal van ‘n seun, net 9 jaar oud. Sy lewe is voor hom, die bladsy nog bitter skoon en daar is min geskryf, maar sy lewe tel momentum op. Vol entoesiasme loop hy die lewe storm, met alles wat hy het. Hy is besig, hy is woelig, hy sukkel om stil te sit in die klas en nuuskierigheid wen gereeld. Almal dink hy is stout, hy is aspris en moet ‘n les geleer word, hy moet pilletjies drink of kort net ‘n goeie pakslae. By die huis klim hy boom as ander leer, lees hy skelm ensiklopidieë as ander slaap want hy wil leer, hy wil weet en hy wil vrae vra.

By die skool vrae hy vrae wanner hy nie moet nie, bak hy poetse as sy somme klaar is en die ander nog besig is. Juffrou kry ‘n plan. Elke oggend voordat hy op sy sitplek gaan sit, kry hy twee houe met die plankie op sy hande, vir dit wat hy verkeerd gaan doen voor pouse. Na pouse kry hy ‘n hou vir dit wat hy in pouse verkeerd gedoen het. Die seun beginne hakkel, hy stotter, hy kan nie meer praat voor mense nie. Juffrou laat hom mooi verstaan dat hy niks met sy lewe gaan doen nie, dat hy niks anders kan doen as om stout te wees nie. Daar doen hy dit, hy raak meer woelig, hy stotter meer, hy hakkel en die skool roep sy ouers, want hy is moeilikheid…… maar meneer as hy net hoor hoe stout en swak hy is, hoe moet hy dan anders, want hy glo dat hy ‘n slaaf is!

Dan word hy 16 jaar oud en ontdek ‘n engel in sy lewe, sy gee Engels en leer hom om homself te ontdek. Sy leer hom die waarde wat God in hom gesit het en hoe besonders God hom gemaak het. Sy leer hom om nie die leuens van die Fillistyne te glo nie, want sy weet wie sy is, sy weet waar haar krag lê en sy glo aan Sy beloftes vir haar. Hy mag maar woelig wees en hy mag maar poetse bak, sy leer hom die regte tyd om dit te doen. Sy lag saam en deel self ‘n paar poetse van haar eie uit.

Die seun is nou ‘n jong man en vir die eerste keer staan hy voor mense en vertel hulle van die liefde van die Here, van die liefde van Juf Fires van Vuuren en hy stotter nie meer nie, hy hakkel nie meer nie, want hy glo nie meer die leuen wat vir hom voorgehou is as die waarheid nie. Sy het hom gehelp klippies optel, sy het hom geleer slingervel gooi, maar bowenal het sy hom geleer van God se belofte en liefde vir hom.

Die seun sou graag die Juffrou met die pouse plankie, styf wou vashou en haar vertel van sy dae op Universiteit, van sy dae saam met mense, soekend na die liefde van die Here. Hy sou haar wou vertel van God se liefde vir haar en dat hul beide nie slawe van die leuen hoef te wees nie.

Waar is die leiers wie die liefde van God ken? Waar is die kinders van Jesus, die uitverkore volk wie die goeie nuus moet lewe in hierdie deurmekaar wêreld?

Al wat ek en jy moet doen, is om die Fillistyn tot verandwoording te roep met die ferm liefde van Jesus. Staan op die belofte van God dat jy Sy kind is, dat jy woelig kan (moet) wees, dat jy nie sal toelaat dat Sy eer in mense vertrap word nie.

Die seun is nou 50 jaar oud, soms twyfel ek nog en wil ek steeds die leuen glo wat vir my geskree word oor die slagveld. Soms tree ek steeds aan sodat die plankie op my hand kan brand, maar dan kyk ek na Dawid, sien ek die liggaam aan die kruis. Ek sien die liefde in my vrou se blik terwyl drie woelige kleuters van 10, 9 en 6 vir my poetse probeer bak.

Hulle is woelig, hulle sit nie stil nie, maar dis hoe dit hoort en ek vra genade want ek wil nie meer die een wees wie hulle keer om net hulself in die Here te ontdek nie. Ek wil nie die Goliat wees wat hul laat twyfel in hul eie krag nie. Hulle mag nie stotter en hakkel nie, hulle mag nie die leuen van die wêreld glo nie maar hulle mag klippies optel en elke reus in die oë kyk.

Wees jouself, delf diep in die Here en glo Sy belofte. Slaan die reus op sy neus wat die leuen aan jou probeer verkoop as waarheid. Wees woelig, wees mens, wees jouself.