Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
wpfc_sermon
wpfd_file

Geloof sy die Here! Dag na dag dra Hy ons! God is ons hulp! (Ps 68:20)

Oor die jare was daar altyd interessante besoekers by ons aan huis. Hulle het – so het ons later besef –‘n  belangrike, selfs onmisbare rol in die opvoeding van ons kinders gespeel.

So was daar Steen Andreassen, my Deense vriend wat in 1991 vyf maande by ons gebly het. Ons het vandag nog kontak. Philip, die aantreklike en gay Hollandse regstudent het weer vir byna twee jaar by ons vertoef. In ‘n latere brief sou hy skryf dat dié tyd een van die gelukkigste in sy lewe was. In dieselfde tyd sou Franciska, die Oos Duitser wat ek destyds in Duitsland ontmoet het, asook die pragtige Saskia van Holland, vir korter tye by ons bly.

Al hierdie persone het ‘n wonderlike positiewe invloed op ons familie gehad.

En dan was daar ook Karen. Karen was deel van ‘n gesin wat dit ekstra swaar in die lewe gehad het. Hulle pa is vroeg oorlede, waarna hul dapper ma moes werk om die pot aan die kook hou. Tussendeur moes ‘n suster wat gestrem was, versorg word. Teen die tyd wat ons Karen ontmoet het, het die gesin by ‘n ouma in Durban gewoon en het sy met beperkte middele op Stellenbosch studeer. Kort nadat ons ontmoet het, het Karen ons gereelde kinderwagter en ‘n kosbare vriendin vir ons en ons kinders geword.

Karen was slim en het later oorsee verder in die teologie studeer. In die jare van studie het sy haar man –‘n bekroonde navorser – ontmoet. Hulle sou kort daarna saam in die Noorde gaan werk waarna ons kontak verloor het. Tot daar skielik vanjaar uit die bloute die volgende boodskap op my foon verskyn het: “Naand, ek wil net met julle my klein suksessie deel.”

Na ‘n mislukte soektog na hierdie “suksessie” – haar eerste publikasie – het ons ooreengekom dat sy maar self die boek na ons sou bring. En hoe lekker was dit nie om haar met haar ma en twee kinders na al die jare weer te sien nie – ook om die boek te ontvang. Ek het vroeër reeds enkele uittreksels in die reklameflits gelees en vermoed dat die inhoud iets besonders sal wees. En ek was reg: die inhoud het my verras en by tye diep geraak.

Die boek van 117 bladsye met die mooi titel, “God in die gewone” is die vrug van ‘n gerypte lewe en geloof; ‘n geloof sonder maklike antwoorde, vroom sousies of vals troos, eerder dié van deurleefde en gelouterde waarheid, verwoord in helder en by tye, hartontroerende taal.

Van buite gesien lyk die boekie redelik vroom en onskuldig. Maar moenie ‘n fout maak nie, dit is gelaai met vars en hoopvolle stof vir ons tyd. Dit bevat hoofsaaklik sketse uit Karen se eie lewe wat telkens ‘n nuwe venster open op God se teenwoordigheid op plekke waar jy die goddelike die minste verwag, naamlik in die gewone. Karen self skryf hieroor as volg:

Soms is al wat dit verg om God te sien om stil te staan en ‘n pelgrimsreis terug in ons lewe te onderneem en te sien hoe daar vir ons gesorg is, hoe slegte tye oorleefbaar gemaak is en hoe God altyd net daardie misterieuse teenwoordigheid was met wie jy gestry het, wie jy ontken het, maar wat jou nooit verlaat het nie.”

Baie van ons ken die ervaring. Amen, is eintlik al wat ‘n mens hierop kan sê.