Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

Ek lees onlangs die volgende waar woorde: “The little things, the little moments… They aren’t little.” Ons sou dit kon vertaal deur te sê: “Daardie klein dingetjies, die klein en onbelangrike oomblikke, is eintlik glad nie klein nie.” Anders gestel: “Let op die klein en onbelangrike dingetjies, want hulle word eendag groot en beduidend.”

Die waarde hiervan word sekerlik deur ’n terugblik bevestig. Wegkruipertjie speel op die gras, daardie spontane roomys, jou doodgewone oggendkoffie, ’n piekniek in die park of die saamkuier wanneer die son sak… Alles dinge wat amper ongemerk verbygaan, en tog so ’n merk op ons lewens laat en later met soveel heimwee onthou word. Klein dingetjies, klein oomblikke wat binne die groter prentjie glad nie klein is nie en uiteindelik groot waarde het.

Groot oomblikke en mylpale kom gewoonlik met groot vertoon, maar dit is die klein dingetjies wat uiteindelik ’n doodgewone dag die moeite werd maak. Ons kan nie daarsonder nie, en ons durf dit nie ontken nie.

So eintlik moet ons let op “klein”. Want klein en groot gaan dikwels hand aan hand. Dit is die klein dingetjies wat saak maak, die klein gebare wat onthou word en die verskil maak. Ons kan ons ure, dae en weke, ons gesinstyd en tyd met familie en vriende, met klein, kosbare oomblikke vul, wel wetend dat dit ’n groot verskil kan maak. En ons kan weet dat God ons klein pogings kan seёn en in sy koninkryk kan gebruik.

Dit is die klein dogtertjie sonder naam, wat met haar getuienis haar meester na die profeet in Israel gelei het. Dit is die klein seuntjie wat sy broodjies en vissies vir Jesus gegee het; vol vertroue dat hy nie sy aandete kwyt is nie. ’n Land vol koring, begin met ’n sakkie korrels. Dit is die klein mosterdsaadjie wat uiteindelik ’n reuse boom word en die handjie vol suurdeeg wat ’n houer deeg tot ’n groot brood laat rys. En die klein babatjie in die verlate stal wat uiteindelik ons hele wêreld kom verander het. Klein begin wat groot eindig.

Ons hoef nie groot te wees, of grootste pogings aanwend, om ’n verskil te maak nie. Ook wanneer ons klein en onbelangrik voel – selfs onbevoeg – kan ons op die leiding en die werking van ’n groot God staatmaak. Moses was ’n hakkelaar, Gideon het die minste aansien in sy familie gehad, Dawid was ’n skaapwagter en Petrus en Andreas twee doodgewone vissermanne. Hulle het almal maar al te goed geweet dat hulle hulle taak nie alleen kan uitvoer nie. Hulle was geheel en al afhanklik van God. En, soos Paulus later sou getuig, was hierdie broosheid hulle sterkte. Die woorde van Mordegai aan die Ester, in die hof van koning Ahasveros, was ook vir hulle waar. “Miskien is jy juis hier in ’n tyd soos hierdie.” Hy moet meer word, en ek minder.
Wat ’n wonderlike troos is dit nie. Wanneer ons hakkel, stotter, struikel of stammer, of wanneer ons voel dat dit wat ons het of gee op geen manier goed genoeg kan wees nie, kan ons weer weet en onthou: klein maak saak. In ons daaglikse lewens, by die werk of by die huis, kan ons aanhou soek vir klein geleenthede, kan ons ander seёn met ons klein pogings, ons vissies en broodjies. Ons klein oomblikke kan ’n groot verskil maak. Ons klein pogings kan boustene binne die koninkryk wees en tot groot seёn wees. Want klein begin kan groot eindig. “The little things, the little moments… They aren’t little.”