‘Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe.’ 1 Tessalonisense 4:3a
Om heilig te wees, beteken om uitgesonder te wees vir ’n besonderse doel.
God het van sy volk verwag om anders as die nasies om hulle te wees. Hy het hulle uitgesonder as die volk waaruit die Messias gebore sou word, en daarom moes hulle heilig wees.
Ons, as Christene, is ook nou deel van God se heilige volk. (1 Pet. 2:9)
Dit beteken dat jy nie sommer net saam met die massas beweeg nie. Jy is nie veronderstel om te dink, te doen of te praat soos wat almal doen nie.
‘En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.’ Romeine 12:1-2
Jy behoort te let waarop jy jou denke fokus, want dit bepaal jou karakter.
Wat is tans besig om jou te vorm? Die algoritme van jou sosiale media platforms, miskien? Of dalk die reekse waarna jy op televisie kyk? Wat lees jy? Saam met wie spandeer jy baie tyd?
Wanneer God jou karakter vorm, vernuwe Hy jou denke. Dan begin jy doelbewus om op Koninkryksdinge te fokus.
As Christen, is jou besonderse doel om die Evangelie te verkondig. Jy hoef nie ’n sendeling of ’n leraar te wees om dit te doen nie. Dade praat harder as woorde, en dit is juis jou leefstyl wat die boodskap oordra.
Dít wat in jou kop aangaan, is wat uiteindelik in jou woorde en dade gaan uitkom.
‘Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart, en die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.”’ Lukas 6:45
Daarom is dit belangrik om jouself as ’n heilige offer te gee. Eers dan sal daar so ’n oorvloed van goeie dinge in jou hart wees, dat dit nie anders kan as om oor te spoel in alles wat jy sê en doen nie.
Op daardie manier sal jy dan jou besonderse doel kan vervul. Dit waarvoor jy spesiaal uitgesonder is.
Geskryf deur Madeleine Venter