‘Hy besluit oor die getal van die sterre en gee elkeen ‘n naam.’ Psalm 147:4
Blykbaar word die totale hoeveelheid sterre in die heelal bereken as 3 × 10²³. Dit is ’n ontelbare getal.
Die God wat ons aanbid, weet egter nie net presies hoeveel sterre daar is nie, Hy ken elkeen se naam.
Daardie selfde God ken jou naam ook. Lees dit weer: Hy ken jou naam.
‘… Die skape luister na die herder se stem. Hy roep sy skape op hulle name en lei hulle uit.’ Johannes 10:3
Hy ken nie net jou naam nie, Hy weet hoeveel hare daar op jou kop is en wat jy gaan dink nog voordat jy dit dink. (Mat. 10:30; Ps. 139:1-6)
Vir Hom is jy nie net ’n nommer nie. Hy ken jou beter as wat jy jouself ken.
Omdat Hy alomteenwoordig is, kan Hy só in jou lewe betrokke wees asof jy die enigste mens op aarde is. Omdat Hy alwetend is, kan jy Hom met jou toekoms vertrou. Omdat Hy almagtig is, kan jy al jou probleme en bekommernisse in geloof na Hom toe bring.
En omdat jy deur Jesus Christus met Hom versoen is, mag jy met vrymoedigheid in sy teenwoordigheid staan.
‘Maar as iemand God liefhet, ken God hom.’ 1 Korintiërs 8:3
Dit is ’n sekerheid waaraan jy mag vashou.
Onthou, wanneer jy met jou naaste omgaan, dat Hy ook húlle name ken. Hy ken die jaloerse kollega en mooiweersvriend. Hy ken die moeilike tiener en hardkoppige ouer. Hy ken die korrupte bestuurder en gewelddadige inbreker.
Hy ken ook die mense vir wie jy lief is.
Die almagtige Skepper van ’n ontelbare getal sterre, weet van alles wat op hierdie oomblik in jou lewe aan die gang is. Van die kleinste detail, tot die grootste gebeurtenis.
Daarom hoef jy nie moedeloos te voel nie. Jy is vir Hom belangrik.
Geskryf deur Madeleine Venter