Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

“Die suiker is op!” het een van my kinders vanoggend redelik benoud aangekondig. ´n Leë houer is ´n probleem – dit dui op ´n tekort. Wanneer die houer, pakkie of suikerblik in die koskas of spens leeg is, is dit tyd vir ´n (soms dringende) besoek aan die supermark om hierdie voorraad aan te vul. (Bitter koffie is vir baie mense die laaste strooi.) Ons voel almal beslis meer gemaklik met ´n vol koskas, klerekas of brandstoftenk – sonder bekommernis oor hoe môre se spyskaart gaan lyk.

Met die stygende kospryse, kan iets wat leeg is nogal ´n gevoel van paniek skep. Hoe gemaak as jy dit nie kan vervang nie? Of as jy vir eers, tot die einde van die maand, daarsonder moet klaarkom? Leeg kan in so ´n geval met ´n gevoel van hopeloosheid en finaliteit gepaard gaan.

Ons wil ook nie emosioneel leeg wees nie. Dit impliseer ´n gebrek aan lewenslus, rigting en vreugde. Dit beteken dat jy eensaam en onvervuld voel. Afgesonder. Sonder ondersteuning. Jy het nie emosionele reserwes nie, en kan daarom nie maklik na ander uitreik wat ook swaarkry nie. Leeg is nie lekker nie. Dit is meestal nie ´n goeie plek om te wees nie.

Jesus se leë graf is egter ´n wonderlike teenstelling. ´n Tydlose gerusstelling. Verbeel jou vir ´n oomblik die verbasing van die vroue en die dissipels wat daardie Sondagoggend vroeg by die graf was. Die graf met Jesus se liggaam was vir hulle die simbool van die einde. Hulle het verloor. Dit waarin hulle geglo het, was nou tot niet. Maar toe… Toe is die graf skielik leeg. Met net die doeke as stille getuienis van wat daar gebeur het. Die graf was toe nie die einde nie, maar eerder ´n splinternuwe begin.

“Leeg” kry met Paasfees ´n nuwe betekenis. Jesus se leë graf beteken eintlik dat leeg nie die laaste sê oor ons lewens gaan hê nie. ´n Leë houer kan dalk vir ´n paar dae ongemaklik wees, maar dieselfde Jesus wat die dood oorwin het, herinner ons om nie oor die dag van môre bekommerd te wees nie. Dieselfde Jesus, dieselfde Vader, wat meer as 5000 mense met vyf broodjies en twee vissies kos gegee het, hou ons steeds in sy hand. Hy weet wat ons nodig het nog voor ons dit van Hom vra.

Die leë graf beteken ook dat ons nie emosioneel leeg hoef te wees nie, nooit regtig alleen is nie. Ons Vader weet wat in ons harte aangaan, wat ons gaan dink en doen selfs nog voordat ons dit weet. Hy ken ons deur en deur.  “Ek sal vir julle ´n Voorspraak stuur,” het Jesus voor sy dood belowe. Die Heilige Gees, ons Vriend en Trooster, sal ons nooit alleen laat nie. Hy tree vir ons in. Hy bid namens ons. Hy stap saam met ons. Hy gaan ons ook vooruit.

Ons kan die wonder van die leë graf vier. Ons kan dit oordink, die goeie nuus met ander deel. Dit beklemtoon die talle beloftes wat God vir sy kinders gee. Geen van die uitdagings wat ons nou ervaar, gaan die laaste sê hê nie. Ons verhaal eindig nie só nie. Ons verhaal begin by die leë graf. Dit is die beste plek om te wees.

 

Deur Susan Goosen