Om jou naaste lief te hê soos jouself, was alles goed en wel, maar die wetgeleerde wou weet wié presies hierdie naaste dan nou is. In antwoord op sy vraag het Jesus toe die gelykenis van die barmhartige Samaritaan vertel. Ons almal ken hierdie storie uit Lukas 10 baie goed.
Hoe gereeld lees ons egter Jesus se opdrag aan die einde hiervan raak? “Gaan maak jy ook so.” (Luk.10:37)
Gaan maak soos die Samaritaan.
Dit beteken dat jy soms sal moet afwyk van jou skedule om tyd te maak vir iemand in nood. Watter planne die Samaritaan ook al vir daardie dag gehad het was daarmee heen. Hy het gestop om die man te versorg, en hom toe na ’n herberg geneem waar hy hom nog verder versorg het. Die priester en Leviet het nie tyd daarvoor gehad nie. Hulle was immers baie belangrike mense op pad na baie belangrike sake.
Jy gaan baie keer jouself in ongemaklike situasies bevind. Die Samaritaan moes die res van die pad te voet aflê omdat hy die beseerde man op sy donkie gelaai het. Dit was sekerlik ook nie ’n aangename taak om iemand wat pas deur rowers aangeval is se wonde te versorg nie. Die rowers het hom vir dood gelos, wat beteken sy beserings moes redelik ernstig gewees het. Hierdie was heel moontlik die grootste rede waarom die priester en Leviet verby gehou het.
Barmhartigheid vra ook dat jy soms moet weggee. Die Samaritaan het sy eie olie en wyn gebruik om die man se wonde mee te versorg. Daarna het hy dit verbind, wat beteken hy moes dalk een van sy kledingstukke opskeur vir verbande. Hy het die herbergier betaal om die man verder te versorg, en belowe om die ekstra onkostes ook te betaal.
Die Samaritaan het dus tyd, gemak en besittings opgeoffer. Dit is wat Jesus van ons verwag. Dit is hoe ons moet optree teenoor ons medemens.
Genade strek egter veel dieper as om net in die fisiese behoeftes van iemand te voorsien. Daar word ook van ons verwag om op geestelike gebied genade te betoon.
‘Aanvaar die een wat in die geloof swak is, sonder om met hom te stry as sy opvatting van joune verskil.’ Romeine 14:1
Onthou, die Heilige Gees stap ’n unieke pad met elke mens, en daarom sal almal nie dieselfde oor dinge voel en dink as jy nie. Staan ander eerder geestelik by deur hulle te wys hoe Jesus se onvoorwaardelike liefde lyk.
Liefde en genade stap hand aan hand. Jy kan nie liefhê sonder om ook genadig te wees nie. Onthou wat liefde doen:
‘Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.’ 1 Korintiërs 13:7
Geskryf deur Madeleine Venter