Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

Die nood is oral sigbaar.

Die verwoestende pandemie, die skreiende armoede en hoё werkloosheidsyfer, en die vernietigende opstande (wat in Julie ons gemeenskappe hier in KZN so direk kom raak het), het veroorsaak dat my woorde vir bid soms opgeraak het. Dit het kompleet gevoel asof my voorbidding-woordeskat te kort geskiet het.

Want hoe bid mens vir die baie mense wat om hulle lewens, en asems, veg in die intensiewe sorg eenhede van hospitale? En vir die gesondheidspersoneel? En geliefdes wat by die huis via Whatsapp boodskappe met die dokters moet kommunikeer? Dié wat virtuele begrafnisse moet hou? En wat van die baie mense wie se totale bestaan, hulle inkomste, geplunder en aan die brand gesteek is? “Here, ons bid vir genade… en vrede… en wysheid,” het net te min gevoel vir die omvang van hierdie probleme.

Die dissipels wat vir drie jaar lank saam met Jesus gewandel het, was seker ook by tye heeltemal oorweldig. Die nood was oral sigbaar. Hulle het siekes, versteurdes en desperate familie en vriende gesien wat wanhopig voor Jesus se voete kom neerval het. “Here, help asseblief. Dat ek kan sien. Loop. Here, my kind lê op sterwe. My seun is dood.” Elke dag. Hulle moes hierdie nood en die gepaardgaande reddeloosheid, aan hulle eie lywe gevoel het. En hulle moes ook partykeer bekommerd gewonder het wat Jesus nou eintlik aan hierdie probleme kon doen. Hulle was immers ook maar liggelowig.

Wat van die keer toe meer as 5 000 mense rondom Jesus vergader het en dit laat in die aand word. Die mense was moeg. Honger. Dalk emosioneel uitgeput na die dag se gebeure. “Stuur die mense eerder nou huis toe, “ was die dissipels se logiese voorstel. “Dit word laat. Hulle kan nie hier bly nie.” En toe, die verrassende antwoord: “Nee, gee julle eers vir hulle iets om te eet.”

Ek kan my die dissipels se reaksie voorstel. Verbaas. “Ons, Here, maar hoe? Kyk net al hierdie mense?” Verontwaardig? “Ons, Here, maar hoekom? Dis mos nie ons skuld dat hulle hier is nie! Hulle het immers swak beplan? Wie loop nou die heel dag agter iemand aan sonder om selfs net ’n bietjie padkos in te pak!” Magteloos. “Ons, Here, maar waarmee? Ons het net hierdie klein bietjie kos! Dit is eintlik net genoeg vir een mens.”

Al hierdie probleme was eintlik onbelangrik, onbeduidend. Want Jesus was daar. Die Seun van die Allerhoogste, die Skepper van hemele en aarde, het nie nodig gehad dat iemand die probleem vir Hom omskryf, of vir Hom enige voorstelle maak nie. Dit was nie nodig om dorp toe te gaan of berekeninge te maak nie. Alles was onder beheer. Al wat die dissipels moes doen, is om dit wat hulle gehad het, voor Jesus se voete te kom lê. Hulle moes die vyf broodjies en twee vissies wat hulle bymekaar gemaak het, vir Jesus oorhandig. Dit was al. Hulle moes slegs gewillig wees om deel van die oplossing te wees.

Gewillig. Dit is vandag nog so. Op ons eie kan ons nie veel doen nie. Die probleem is reusagtig. Die omvang van die skade, enorm. Die nood is oral sigbaar. Jesus vra net dat ons dit wat ons het, dit wat ons bymekaar kon maak, voor sy voete sal lê. Hy sal dit gebruik en vermenigvuldig om maniere wat jy nie kan droom en dalk nooit sal sien nie. (Vra maar vir diegene wat na die plundering ingespring en begin het om hulle dorpe stukkie vir stukkie weer skoon te maak.) Die ete wat jy vir iemand kan maak, die boeke wat jy vir ’n skool skenk, of die tyd wat jy kan opoffer om jou buurvrou se kind met huiswerk te help, of by die sopkombuis te gaan help, sal vrug dra en ’n groot oes oplewer.  Neem jou besem, soppot, jou tyd, liefde en aandag, en vra vir die Here om dit ten goede in die lewens van ander te gebruik.

My gebed moet dus wees: “Neem my lewe, laat dit Heer, U gewy wees meer en meer. Doen slegs U wil Heer, U wil met my. Gebruik my, vorm my en maak my na U beeld.” Die nood is oral sigbaar, so begin vandag. Maak ’n klein verskil. Gee vir Jesus die bietjie wat jy in jou hand het. En vertrou Hom om dit op groot en wonderlike maniere te gebruik.