Na aanleiding van Psalm 70 (lees 2020-vertaling)

Here, Psalm 90 help my om ten minste twee elemente in my verhouding met U te her-besoek. Die Psalmis dui sy gebed aan as ’n herinneringsoffer aan U. Dawid kom na U in aanbidding, te midde van uitdagende tye. Daar roep hy herinneringe op oor u bevryding en wie U is.

Dankie vir u praktiese onderrig, Here, wat U deur Dawid met ons deel. Tog vreemd dat U ons voortdurend bewus moet maak van hoe belangrik herinneringe aan u dade, vir ons lewe is. Dit is juis die gawe van herinnering aan U betrokkenheid by ons, wat ons moed gee vir nog ’n tree.

Ek wil die gewoonte van ’n herinneringsoffer omarm in my verhouding met U, Here. Kweek in my ’n sensitiewe ingesteldheid om meer doelgerig met herinneringe aan u betrokkendheid in ons lewe om te gaan. Help my om dieper te kyk en vanuit die krag van herinnering te leef.

Here, die tweede element in my verhouding met U wat Dawid in sy herinneringsoffer in ons midde plaas, is die formaat van hoe ek/ons die gewoonte van herinnering kan vestig. Die Psalmis bied sy herinneringsoffer aan in die vorm van ’n opsomming van waar hy U ervaar het.

Ek dank U ook vir hierdie praktiese hulpmiddel uit die lewe van u dienskneg, Here. Die formulier-tipe gebed vir gebruik in verskillende omstandighede, bied voorwaar ’n diepsinnige middel waardeur gelowiges hulle tot U kan wend wanneer ons geloofsversterking verlang.

Here, ek hoor Dawid se dringendheid waarmee hy tot U nader. Ek hoor hoe hy situasies waarin hy verkeer verwoord, en aandui dat tyd beperk en dringend is. In dié soort omstandighede help ’n geoefende formule
om U dade in herinnering te roep en hoop te skep.

Ek hoor ook, Here, hoe Dawid in sy formulier meerdere emosies ter sprake bring. Dit maak die herinneringsoffer ryk en omvattend. Daarom wil ek in navolging van die Psalmis werk aan geloofsgewoontes om my te dissiplineer In my beoefening van die herinneringsoffer.

Leer my, Here, om beperkte tyd te waardeer en te benut.

Amen

Geskryf deur Dr Eddie Orsmond
RCL JAAR A – VIER EN TWINTIGSTE WEEK VAN KONINKRYKSTYD