Die groot vyf van ons wildtuine is alombekend. Die meeste besoekers aan reservate wil gráág leeus, olifante, buffels, luiperds en renosters te siene kry. Dit is heerlik om na so ’n vakansie staaltjies oor leeus wat jag, of foto’s van olifante wat by ’n watergat baljaar, met mekaar te deel. Ongelukkig gebeur dit ook soms dat vakansiegangers geeneen van hierdie ikone te siene kry nie, en dan effe teleurgesteld huiswaarts moet keer (met die hoop dat dit dalk volgende keer beter en meer opwindend sal wees).
Deesdae word mense aangemoedig om ook hulle oё oop te hou vir die “klein vyf”: die olifantmuis, die mierleeu, die buffelwewer, die bergskilpad (leopard tortoise) en die renosterkewer. Op hierdie manier wil wildbewaarders en toergidse die aandag vestig op kleiner, en dalk minder opsigtelike diere. (Hierdie eiesoortige klein diertjies gaan jou dalk verras en verbaas! Het jy byvoorbeeld geweet dat ’n bergskilpad kan swem? Of dat die mannetjie renosterkewer sy horing gebruik om met sy teenstanders te baklei?) Ons word aangemoedig om anders te kyk – deur ’n ander bril – en ons verwagtinge bietjie aan te pas. Indien jy bereid is om ’n skilpad dop te hou, of opgewonde hande te klap wanneer jy die mierleeu in sy gaatjie sien, gaan jou hele wildtuin ervaring anders lyk en gaan jy heel moontlik baie tevrede wees wanneer jy huis toe gaan.
Net soos vakansies, moet ons soms ook ons gewone omstandighede vanuit ’n ander hoek, of deur ’n ander bril, bekyk. In die boek Genesis lees ons van Jakob wat moes vlug nadat hy vir Esau en sy pa bedrieg het, weg van sy familie, heeltemal alleen en verslae. Platgeslaan en bekommerd. Die eerste nag gaan slaap hy, en sien in ’n droom ’n leer met engele wat op en af klim. God self praat met Jakob, en Hy gee aan Jakob die belofte van sy ewige verbond en sy beskerming. Dit het Jakob se perspektief op sy omstandighede heeltemal verander. Verwonderd het hy wakker geword. “God was hier, op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie.”
In Paulus se brief aan die Efesiёrs, bid hy dat God die gelowiges se geestesoё sal verhelder en hulle harte sal verlig. Paulus bid dat die gemeente in Efese deur ’n ander, nuwe bril, na hulle lewens en omstandighede sal kyk. Hy bid dat hulle ’n nuwe perspektief sal hê en sal verstaan hoe wonderlik die vooruitsig is wat God se roeping inhou, dat hulle iets van sy heerlikheid sal sien en verstaan. Hulle moet sien en ervaar hoe enorm groot die krag is wat God gebruik vir almal wat in Hom glo. Selfs wanneer dit sleg gaan en die toekoms maar donker lyk, moet hulle hieraan bly vashou.
’n Nuwe bril, ’n nuwe perspektief, sal nie ons omstandighede of probleme verander nie, maar dit gaan verander hoe ons daarna kyk. Die pandemie, uitdagings by die werk en binne ons gesinne, werkloosheid en armoede, gaan nie oornag verander nie. Maar as ek deur ’n ander bril daarna kyk, gaan ek dit waarskynlik anders benader. Ek gaan meer op geleenthede, en minder op probleme, fokus. Dié nuwe bril gaan my ook in staat stel om God se hand op onverwagte plekke in my lewe raak te sien. Ek gaan God se teenwoordigheid op die gewone, alledaagse plekke in my lewe ervaar.
Ek gaan nuwe waardering toon vir ’n veilige rit in die besige verkeer, vir ’n bord kos (en gepaardgaande vuil kombuis), ’n pakkie wat betyds aankom of die vriendelike woorde van ’n vreemdeling in die supermark se ry. Met my nuwe bril gaan ek opnuut dankbaar wees vir vriende en familie wat die pad saam stap, vir troeteldiere, musiek en boeke en alles wat die lewe draaglik, mooi en opwindend maak.
Dit vra ’n bietjie van ’n kopskuif. In plaas daarvan om net te fokus op die groot dinge: daardie langverwagte bevordering, ’n wonderkuur, ’n beter woonbuurt of ’n groter salaris, vra my nuwe bril dalk dat ek tevrede sal wees met wat ek het, dit sal omarm en my sal verlustig in die baie maniere waarop God sy liefde en almag aan my bewys. Net soos met ’n wildtuinvakansie, gaan hierdie nuwe benadering my hele ervaring ten goede verander. Dan kan ek ook erken: “God is wel hier, ek het dit net nie besef nie.”