Hoeveel keer het jy al die woorde: “Wag op die Heer en Hy sal jou gee wat jou hart begeer”, gehoor?
Is dit werklik so maklik? Gee Hy jou wat jou hart begeer?
Eerlik kan ek nie dink wat is moeiliker as om te wag nie. Om nie moed op te gee nie, om nie my eie ding te begin doen en aan te hou luister vir antwoorde wat lank vat om te kom nie.
Die laaste paar jaar hoor ek gereeld van moedelose mense, mense wie se lewe hier totaal verander is sonder dat hulle werklik ‘n aandeel daarin gehad het. Mense het sakeondernemings verloor, werke verloor, hulle het vriende en familie verloor. Baie van ons het HOOP verloor. Hoekom het ons hoop verloor? Hoop is dan mos juis om vas te hou aan geloof? Wat is geloof?
“Geloof is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie”
Hebreërs 11:1
So ‘n week of twee terug sit twee mans en praat ernstig binne hoorafstand van my. Hulle vertel mekaar van die besighede, onder andere, wat hulle verloor het as gevolg van ‘n wêreld pandemie en oor ‘n lewe wat hul skaars herken. Tussen die twee van hulle is daar twee restaurante en ‘n gastehuis wat nie meer bestaansreg het nie, wat aan die einde van die maand toe en weg sal wees. Ek luister na die gesprek maar dis in die derde persoon en ek sukkel om deel te neem. ‘n Nuwe stem trek skielik my aandag. Soos op skool toe jy wegsluimer en dan staan die onderwyser voor jou en jy weet – jy het die vraag gemis en daars groot afwagting vir jou antwoord. “Huh, wat sê jy? Herhaal dit net gou weer asseblief want ek het nie gehoor nie.” Anders as in die klas, is daar nie ‘n skaterlag van die res van die groep nie. Daar is ook nie die gebulder van die onderwyser nie, daar is net swaar stilte en dan die herhaling van die stelling:
“Moenie hoop verloor nie, wag op die Here, want Hy is daar!”
Die gesprek gaan aan alhoewel ek glad nie meer daar is nie. Ek hoor niks, voel niks en sien net lippe beweeg en koppe knik. My wese kom in opstand, ek bewe en my binne-stem wil net skreeu:
“Nou waar de hel is Hy dan? Waar kruip Hy weg, hierdie een van wie jy praat? Glo jy wat jy nou kwyt raak? Jy praat so maklik en met soveel oortuiging, glo jy dit werklik? Hoe lank moet ek nog wag?
Dan sit die twee mans weer op hul eie en ek sien opnuut die vraag op elkeen van die twee se gesigte. Wat gaan ons doen en hoe vertel ons dit vir ons gesin, familie en vriende?
Ja, wat gaan ons doen?
Ek gaan haal die kinders by die skool en terwyl ek wag sien ek die seun met wie ek gesprekke gehad het oor sy gedrag en sy akademie wat nie op dreef kom nie. Ons groet mekaar eers onseker en dan glimlag hy en vertel met vreugde: “Ek het hoop oom, daar is ‘n skool wat my volgende jaar ‘n kans sal gee!” Daai woordjie hoop weer.
Jy sien, hoop is die oomblik, hoop is geloof, want hoop maak nie regtig sin nie, maar hoop is oorgee, hoop is laat gaan, hoop is wag! Hoop is ook doen, hoop is ‘n werkwoord, hoop is om te doen terwyl jy wag.
Wat moet ons doen? Ons moet oorgee, ons moet bereid wees om in die moeilikste omstandighede – te laat gaan. Ons moet ophou om alles self uit te sorteer, hoewel ek en jy ons deel moet doen, moet ons leer om God te vertrou en moet ons Glo dat Hy saam met ons in elke situasie is. Hy praat nie altyd nie, soms staan Hy net daar en ek wil skreeu want wanneer gaan Hy nou iets doen? Ons/my probleem is dat ons alles self wil oplos, ons kyk so in die seer en die paniek vas, dat ons vergeet van wie ons werklik is. Ons gesprekke is so diep en stres belaai dat insig ontbreek en nuwe perspektief onbepaald ver is.
Wie is ons werklik?
Ons is mens, ons is deel van hierdie stukkende wêreld. Ons is kinders van God, verlos deur die bloed van Sy seun en dit maak die prentjie anders. Dit beteken nie dat ek niks moet doen, omdat Jesus dit klaar gedoen het nie. Ons het gewoond geraak aan die konsep dat die lewe en mense my iets skuld, want ek is geregtig om gehelp te word en ek wil nie wag nie. God se wag is egter anders. God se wag is om oor te gee, om myself en my besittings prys te gee, sodat Hy vir my kan wys wat Hy wil doen in my situasie. Ek moet stil word en besef dat alles wat ek het, aan die Here behoort en die uitdaging is dan om alles vir Hom terug te gee en te begin leef soos iemand wie niks het nie, maar tog oorvloed het!
Die twee manne wat my gedagtes vol was, sit weer Dinsdag op dieselfde plek en drink weer koffie. Dit is hierdie keer stil, daar word nie baie gepraat nie, maar daar is wel iets anders. My reaksie en binne-praat is hierdie keer anders. Dit begin weer met die moedeloosheid, die pyn, die woede oor alles en die blaam plaas. Hierdie keer skreeu die stem in my:
“Vertel hom! Verduidelik wat jy beleef het! Deel die hoop, deel die oorgee!”
Hel dit is moeilik. Hy gaan dink ek het opgegee, ek het oorgegee. “Jy het oorgegee, maar nie opgegee nie. Daar is ‘n groot verskil en dit is waar HOOP gebore word!” Here, is dit dan so maklik en so eenvoudig?
“Vertel jy my … wat beleef jy?” Miskien dat jy, jouself moet laat gaan want Hy wil jou die pad wys? Om uit jou eie pad uit te kom, want dit is ek wat myself potjie. Ek val oor my eie voete en in my poging om myself te probeer red, sink ek net dieper.
Wat ons het, is inderdaad net genade. Wat ek het, is inderdaad net geleen en was nooit, is nooit en sal nooit die maatstaf van my waarde wees nie. God meet my waarde en Hy het gesê:
“Dit is goed, dit is baie baie goed”
Gen 1
Ek getuig teenoor die twee praters wat ek beleef het en hoe God weer die hoop in my aangewakker het. Alhoewel hul bewoë is, en die stilte eers swaar is, begin daar tog vrede en hoop nader kom.
Ek staan op sonder om te groet. Terwyl ek uitstap, kyk ek terug en sien dat daar net een koppie koffie staan, net een stoel is terug gestoot. Dadelik wonder ek waar is die ander een, hoe het ek Hom gemis? Terwyl ek die motor aansluit, begin die musiek speel. Dit is Brandon Lake wat sing:
Oh, there’s nothing better than You
There’s nothing better than You
Lord, there’s nothing
Nothing is better than You
I’m not afraid
To show You my weakness
My failures and flaws
Lord, You’ve seen ’em all
And You still call me friend
‘Cause the God of the mountain
Is the God of the valley
There’s not a place
Your mercy and grace
Won’t find me again
Terwyl ek in die tru-spieël kyk, sien ek Hom raak, Hy is hier. Ek sien hom in my eie nat oë en die lofprysing begin in my hart. Dankie Here vir wat ek het, dankie vir lewe en familie. Dankie vir genade, dankie vir hoop, maar dankie dat ek ook op U kan wag. Op U kan wag met al my vrae, in moeilike gesprekke en by al my wanhoop as mens. Dankie dat U dit alles in lof en hoop verander!
Sit by Sy voete, skreeu, baklei, raas, huil. Maar maak ook reg daarvoor dat Hy jou nuut gaan laat dink. Al verloor ons alles hier op aarde, is Hy daar, Hy wag en Hy gee vrede en sodra ons vrede het, is daar hoop en dan is daar beweging.
Wees opgewonde en leef in verwagting vir die nuwe deur wat Hy oopmaak, loop deur met hoop en weet Hy loop saam. Al het ek niks besighede oor nie, het ek alles wat ek nodig het en dit is vir my genoeg! Ek kan steeds koffie drink saam met Hom…
Blessings
Wynand Olivier