Daar is ’n verhaal in 2 Kronieke 20:1-30, wat nog altyd my verbeelding aangryp.
In die tyd van koning Josafat se bewind in Juda, het drie groot vyandige groepe saamgespan om die land binne te val. Toe Josafat die nuus hoor, het hy ’n vasdag aangekondig, en het almal uit die omliggende stede by die tempel bymekaargekom. Josafat het teenoor die Here erken dat hulle nie die krag het om daardie groot menigte te weerstaan nie, en het God gesmeek om hulp.
Die Heilige Gees het toe deur Jagasiël met die volk gepraat, en hulle verseker dat hulle nie eens nodig gaan hê om te veg nie. Dit was nie hulle oorlog nie, maar God s’n. Toe die volk hierdie woorde hoor, het almal voor die Here gebuig en Hom aanbid. Die Leviete het toe opgestaan en Hom uit volle bors begin prys.
Die volgende dag het Josafat die volk laat optrek om hulle posisie in te neem – soos wat die Here hulle beveel het om te doen. Terwyl hulle gereed gemaak het om te vertrek, het hy hulle moed in gepraat, en toe doen hy ’n baie ongewone ding.
Hy laat ’n groep sangers vooruit loop, met die gewapende mans agterna. Kan jy jou indink hoe agterstevoor om dit moes gelyk het? Dit sou meer sin gemaak het as die gewapende mans vooruit geloop het, aangesien daar ’n groot menigte was waarteen hulle Juda moes beskerm.
Maar Josafat het die lofsangers voor laat loop, en dit is hier waar die wonder gebeur het:
‘Juis toe, toe die sangers met die lofprysing en gebed begin, het die Here onverwagte aanvalle bewerk op die Ammoniete, die Moabiete en die mense van die Seïrberge wat teen Juda opgetrek het, en hulle het die een neerlaag na die ander gely.’ 2 Kronieke 20:22
Teen die tyd dat die Judeërs by die uitkykpunt gekom het, was hulle vyande reeds verslaan. Hulle het nie nodig gehad om ’n wapen te lig nie. Al wat hulle gedoen het, was om die Here te prys, en dit was hoe hulle die vyand verslaan het.
Ons kan ook ons vyand, die duiwel, verslaan deur God te loof en te prys in alles wat ons doen. Dit is wanneer Hy die swaard optel en vir ons veg.
Prys Hom, want Hy gee die vermoeides krag.
Prys Hom, want sy grootheid is ondeurgrondelik.
Prys Hom, want Hy is getrou, en sy liefde ken geen einde nie.
Prys Hom, want Hy het die hemel en die aarde gemaak met alles daarop. Hy tel al die sterre en ken hulle name.
Prys Hom, want Hy het ons losgekoop met sy eie bloed, sodat ons die ewige lewe kan hê.
Prys Hom, want Hy is daartoe in staat om soveel meer te doen as wat ons voor kan bid, of selfs aan dink om te bid.
Prys Hom, want Hy is die Alfa en die Omega wat sy kinders gaan kom haal, en alles weer nuut gaan maak.
‘Laat alles wat asemhaal, die Here prys! Prys die Here!’ Psalm 150:6.
Geskryf deur Madeleine Venter