Is dit nie erg dat ons verleer het om te “relax” nie?
Ons weet nie meer hoe om net te wees nie. Want sodra ons net is, net ontspan, word ons met skuldgevoelens toegegooi!
“Jy kan nie so sit nie!”
“Voel jy nie skuldig om so niks te doen nie?”
“Daai lysie gaan nie korter word as jy so sit nie”
As ek eerlik moet antwoord – NEE ek voel nie skuldig om soms net te wees nie! Dit is nogals lekker om soms net te wees, om soms net tyd aan myself te spandeer. Hoekom is dit so moeilik om te rus sonder om skuldig te voel?
“Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God” – Efesiërs 2:8
Iewers het ons beginne meet wat ons vir die Here doen, ons het begin boekhou van dit wat ons vir ander doen. Ons (ek), het vergeet dat niks wat ons doen kan God beïndruk nie, Hy werk nie op so ‘n manier nie. Hy werk met genade en geloof. Ons geloof in Jesus, dit bring Sy genade ten volle in ons lewens en dit is ‘n gawe direk uit Sy hand. Ons is so besig om alles na te jaag, dat ons vergeet dat die lewe ‘n mark is en dat ons slegs besoekers in hierdie aardse mark is.
Jesus aanvaar elkeen van ons net soos ons is. God stort Sy genade oor ons uit, omdat ons glo, nie oor wat ons doen nie. Ons leef Sy liefde juis omdat ons genade beleef en dit bring dankbaarheid. Hierdie aardse lewe raak net sou gou ‘n dolla gejaag na wind, ‘n mallemeule waar ons nie meer weet of ons bo, onder of langsaan is nie. Maak tyd om net te wees, om niks te doen nie, om net by ‘n stalletjie van die mark stil te staan en te wees. Maak tyd om jouself weer te ontdek en net by Jesus se voete te sit en oopmond te staar. Hoor Jesus se woorde:
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” – Matt 11:28
Hy het nie gesê ons moet na Hom toe kom, sodat Hy ons ‘n lys van dinge kan gee om te doen nie. Hy nooi ons uit om te kom rus, juis omdat ons Sy redding in geloof verstaan.
Die Here het my geseën met die beste vrou op aarde en ek leer so baie by haar. Spesifiek hierdie laaste drie dae – sy leer my weer om te leef, te rus, te sit en net jouself te wees. Sy kry dit reg want sy het die besluit gemaak om rus tyd in haar dagboek te blok en dan by daardie tye te hou. So staan daar in haar dagboek dat sy die volgende twee weke verlof het, uitgeboek aan haarself en ons as gesin.
Die week skop af met ‘n openbare vakansiedag en ek is aan diens by die restaurant. Ilze en die kinders is tuis en was dit nie amazing om tuis te kom nie. Ilze sit op die bank en lees ‘n storieboek met verwondering en intense aandag. Die kinders speel en niemand pla vir Mamma nie want dit is haar dag vir haarself. Eers terwyl ek tee aandra, besef ek dat sy steeds in haar “pajamas” sit en lees. Hare nog lekker deurmekaar, maar die rustigheid speel oor haar hele lyf en in haar oë dans die held met die mooi meisie van die liefdesverhaal wat sy lees. Sy was heeldag in haar “pajamas” en ek moet bieg, dit lyk vrek lekker.
As kind van God, het ek die versekering dat Hy my liefhet net soos ek is, met die foute wat ek maak, met die goed wat ek doen, net soos ek is. Ek hoef niks meer te doen om Hom te oortuig nie, Hy ken my en is by my elke oomblik van my lewe. Die mark van die lewe het so kompeterend geword, dit veroorsaak dat ons perspektief verloor van wie ons werklik is. Dat ons so jaag na wind, dat niemand niks gegun word op die mark van die lewe nie, want ek moet altyd beter en verder, ek moet altyd almal wys hoe goed ek is.
Hou op om so hard op jouself te wees!
Hou op probeer en begin leef, want die tyd is min.
Dit is die eerste Sondag van die vakansie en ons besluit om Skeerhok Padstal toe te ry en saam ontbyt te gaan eet. Net te speel op die swaaie, te gesels en lekker te eet. My foon bleep 11:50, dit is my neef wat ‘n boodskap los.
Ek hoor sy stem en dit raak doodstil om my, so stil ek hoor net my eie asem en hartklop. Al wat ek uiter is: “Nee, nee man!!”, my niggie se 9 jarige dogtertjie, het 11:30 haar laaste asempie in haar mamma se arms uitgeblaas. Sy is weg, sy is na Hom toe. Ek staar na my 9 jarige Twakkies, sien hom speel op die skoppelmaai, uitbundige lag. “Here, nege somers is darem net heeltemal te min”, prewel ek terwyl ons huiswaarts ry.
In my ore weergalm die lied: “Jesus paid it all.” Passievol gesing deur Kim Walker-Smith. Hy het vir ons almal klaar betaal en Hy wil hê dat ons Sy rus moet inkom en by Hom vrede vind. Hy nooi ons om net te kom wees by Hom. Ek weet al was dit net 9 somers, ken sy Hom en Sy weet wat Sy rus behels, sy weet dat sy goed genoeg was en steeds is! Ons jaag so om almal en alles te beïndruk dat ons vergeet wat genade werklik beteken! Ons hoef niemand en veral nie vir God te impress nie, ons kan maar net wees. Ons kan maar net hard werk en hard rus en wees, want as dit vir Hom goed genoeg is, is dit vir my ook goed genoeg.
“Volmaakte liefde het nie plek vir vrees nie; volmaakte liefde dryf die vrees uit omdat vrees nog straf behep is, en wie aanhou vrees, het nog nie die volmaakte liefde bemeester nie.” -1 Johannes 4:18
Ek en jy is hier op aarde om LIEFDE te leef en te laat leef. Dit gaan nie oor hoe lank ons hier is nie, maar oor wie ek was terwyl ek hier was! Nege somers was vir “Ammie” genoeg, want sy het mense se lewens verander met haar glimlag, met haar menswees!!
“I am not called to become a better person; I am called to become more Christlike.” – Stephan Joubert
Hou op jaag en wees net wie jy is.
Gebruik die gawe van genade wat God vir jou gee en gaan leef Sy genade deur lief te wees vir jouself en jou mense, alle mense! Vrees en ‘n gejaag na aardse opdragte en vereistes, kom nie van God nie. Dit veroorsaak swak fokus en dan mis ons die lewe en wie ons werklik is.
Leef en wees wie jy is en wees trots in Sy rus.
Vrede en rus en liefde