‘Daar was baie mense wat gedurig gekom en gegaan het, sodat Jesus en sy dissipels selfs nie kans gehad het om iets te eet nie. Hy sê toe vir hulle: “Kom julle alleen saam na ‘n stil plek toe en rus ‘n bietjie.” Hulle het met ‘n skuit na ‘n stil plek toe vertrek waar hulle alleen kon wees.’ Markus 6:31-32
Ek wil graag glo dat Jesus ook vir my so nou en dan sê: “Kom na ’n stil plek toe en rus ’n bietjie.” Die God wat ons geskape het, weet tog dat ons rus nodig het.
Vat byvoorbeeld vir Elia. Hy het moeg en moedeloos onder ’n besembos gaan sit en wou sommer net doodgaan. Die Here het hom egter laat eet en slaap totdat hy genoeg krag gehad het om verder te kan gaan. (1 Kon. 19)
Ons weet ook dat God een dag in die week opsy gesit het waarin Hy wil hê dat ons moet rus:
‘Jesus het verder vir hulle gesê: “Die sabbatdag is vir die mens gemaak en nie die mens vir die sabbatdag nie.’ Markus 2:27
God gun ons rustye, maar ons sukkel om dit te aanvaar. Miskien omdat ons in ’n kultuur leef waarin dit die norm is om besig te bly. Die feit dat jy deesdae jou werk in jou sak kan saamdra maak dit ook nie makliker nie. Selfs wanneer jy nie anders kan as om stil te sit nie – soos byvoorbeeld in ’n wagkamer – is jy besig om e-posse te beantwoord of op sosiale media rond te blaai.
Om tyd in die natuur deur te bring, is ’n uitstekende manier om liggaam en siel ’n blaaskans te gee. Daar is al heelwat studies gedoen oor die positiewe uitwerking wat die natuur op mense het. Dit verlaag onder meer angstigheid, verlig depressie, en verbeter jou uitkyk op die lewe. Verder is daar ook gevind dat ’n natuurlike omgewing jou bloeddruk stabiliseer, en selfs fisiese pyn kan verlig.
’n Tekort aan tyd in die natuur – as gevolg van ure en ure voor ’n skerm – word direk geassosieer met depressie en stres-relevante gesondheidsprobleme.[i]
Gun dus jouself hierdie week ’n bietjie rus en vrede. Al drink jy net jou tee onder ’n boom, of gaan stap vir ’n paar minute in die tuin. Waardeer die skepping en geniet ’n oomblik van stilte sonder al die stemme op jou foon. Dit is goed vir jou, en jy mag maar.
[i] University of Minnesota; How does nature impact our wellbeing? – Louise Delagran, MA, MEd
Geskryf deur Madeleine Venter