‘Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry, want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.”’ Matteus 18:19-20
Jesus wil nie hê dat ons eiland-Christene moet wees nie. Sy gebed in Johannes 17:21 bevestig dit.
Om tyd saam met ander gelowiges deur te bring, is ’n wonderlike ervaring. Dit versterk jou geloof en bied bemoedig wanneer die lewe se storms uitbreek. Daar is min dinge wat die opwinding van gesamentlike lofprysing en aanbidding ewenaar.
Met die hulp van die Heilige Gees leer ons ook by mekaar en bedien ons mekaar met die spesiale gawes wat Hy uitgedeel het.
Daarom moedig Paulus die gelowiges in Kolosse aan met hierdie woorde:
‘Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing.’ Kolossense 3:16
Ons weet dat Jesus se volgelinge almal bymekaar was die dag toe die Heilige Gees uitgestort is, en ook dat die eerste Christene gereeld bymekaargekom het (Hand. 2:1; Hand. 2:46).
Die eenheid onder medegelowiges word deur die Gees bewerkstellig en die band wat ons bymekaar hou is liefde (Ef. 4:3; Kol. 3:14).
Samehorigheid vra egter dat jy tyd opoffer. Dit is ’n uitdaging om in ’n reeds besige week bymekaar te kom vir Bybelstudie of biduur. Miskien is ’n Sondag die enigste dag waarin jy nie hoef te werk nie, en voel jy nie altyd lus om vroeg op te staan vir die erediens nie.
Dit is wanneer die opoffering te groot raak dat gelowiges die gevaar staan om eiland-Christene te word. Eiland-Christene mis uit op die ondersteuning wat medegelowiges bied. Hulle voel oorweldig in ’n sekulêre wêreld en swig makliker onder versoekings. Daar is ook nie geleentheid om jou Geestelike gawes te ontdek en te groei wanneer jy ’n eiland-Christen is nie, want jou gawes is juis daar om die kerk mee te dien.
Wend die week ’n daadwerklike poging aan om saam met ander medegelowiges te aanbid en God se Woord te bestudeer. Dit is absoluut die moeite werd.
‘Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.’ Hebreërs 10:25
Geskryf deur Madeleine Venter