‘Dit is U aan wie dag en nag behoort, U wat aan die son en die maan hulle plek gegee het, U wat al die seisoene van die aarde vasgestel het; somer en winter is die werk van u hand.’ Psalm 74:16-17
Dit is God wat gesorg het dat die Aarde teen net die regte hoek gekantel is sodat seisoene moontlik kan wees – iets wat absoluut noodsaaklik is vir lewe soos wat ons dit ken. Seisoene speel ’n baie belangrike rol in die lewensiklusse van plante en diere, asook gesonde ekosisteme.
Die verandering van seisoene is ook goed vir ons geestesgesondheid. Die voorspelbare ritme bied struktuur en sekuriteit.
Alhoewel ons nie meer so verbind aan seisoene is vir ons voedselbronne soos vorige geslagte nie, speel die voorspelbare tye vir plant, oes, berging en feesviering steeds ’n groot rol in baie van ons kulturele tradisies.
Net so het ons lewens ook seisoene. Daar is tye van groei, tye van nuwe projekte en harde werk, tye om te vier, en tye vir rus en nadink. Soos wat die Prediker sê:
‘Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd’ Prediker 3:1
Miskien bevind jy nou jouself in ’n seisoen van wag, of dalk is jou seisoen van wag en groei pas verby en het die tyd vir nuwe projekte en harde werk aangebreek. Daar sal ’n seisoen aanbreek waarin jy die vrug van jou arbeid kan oes en geniet, en dan weer ’n tyd vir rus. So word die siklus herhaal.
’n Entjie verder in Prediker 3 staan daar:
‘God het elke ding gemaak dat dit pas in ‘n bepaalde tyd, maar Hy het ook aan die mens ‘n besef gegee van die onbepaalde tyd. Tog kan die mens die werk van God van begin tot einde nie begryp nie.’ Prediker 3:11
Moenie moedeloos raak wanneer dit vir jou voel asof die tyd vir wag en groei te lank neem nie. Jou Hemelse Vader weet hoe lank elke seisoen in jou lewe behoort te wees.
Soos wat jy in die komende weke die blare sien verkleur, onthou dat ook die seisoene van jou lewe deur Hom vasgestel is, en skep nuwe moed. Hy is in beheer.
Geskryf deur Madeleine Venter