Die sterre het vir Abraham hoop gebring.
Hy en Sara was immers kinderloos. Beide al bejaard sonder dat hulle ooit die vreugde van ’n kind van hulle eie gehad het. Al verby tou opgooi. Hopeloos. En toe vat God een aand vir Abraham na buite. “Kyk op na die naghemel, Abraham. Kan jy die sterre sien? Kan julle hulle tel? Probeer! Jou nageslag, jou familie, sal so baie wees soos die sterre aan die hemel.” Telkens wanneer die ou man in die aand buite gestaan het, kon hy weer opkyk, en opnuut God se belofte onthou.
Die sterre het vir Dawid in verwondering gelaat.
“Wanneer ek opkyk na die naghemel en ek sien die werke van u vingers, die maan en die sterre wat U in hulle plekke geplaas het, wat is die mens dat U aan hom dink?” Die grootsheid van die hemelruim het hom stomgeslaan, klein en nietig laat voel. Dit het die almag van God opnuut onderstreep en onderskryf. Ons is swak, God is in beheer.
Ester was self die ster.
Haar naam, wat beteken ‘Ster van Hoop’, was baie gepas. Binne God se groot raadsplan het sy koning Ahasveros se koningin geword in ’n tyd toe daar ’n Joodse volksmoord gedreig het. As Joodse koningin het sy toegang tot die koning se troonkamer gehad en kon sy vir haar volk in die bresse tree. So is hulle almal van ’n gewisse massamoord gered.
Die sterrenag het die skaapwagter buite Betlehem met ontsag gevul.
Hulle was vreesbevange. Want skielik, in die helder sterrenag, was daar ’n glansryke engel met dié boodskap: “Vandag is daar vir julle die Verlosser gebore. Hy is in doeke toegedraai en lê in ’n krip. En hierna was die hele sterrehemel skielik vol van ’n engelekoor wat hierdie boodskap met hulle lied bevestig het.” Die skaapwagters kon nie maar net voortgaan nie, hulle moes hierdie kindjie gaan soek. Nooit weer sou ’n helder sterrenag vir die groep mans dieselfde betekenis gehad het nie. Hulle sou telkens terugdink na daardie wonderlike nag, die lied weer hardop sing of saggies neurie.
En dan is daar seker die bekendste ster van alle tye, die Betlehem Ster.
Die ster wat die wyse manne van hulle boekrolle laat opkyk het. “Wat sou dié ster tog beteken? Watter boodskap bring dit? So ’n blink, helder ster moet tog iets beteken! Sekerlik dui dit op die geboorte van ’n koning. Ons kan dit nie net ignoreer nie. Ons moet self gaan ondersoek instel.” En hierdie manne, wat God nie geken en die belofte van sy Seun, die Verlosser, nie verstaan het nie, maak geskenke en padkos bymekaar en klim op hulle kamele om die ster te volg.
Vir hulle was die ster vol belofte, geheimenisse. Dit het ook simbool geword van hoop. Van verlossing. Verligting. Want daardie ster het tot stilstand gekom bo die plek waar Josef en Maria saam met baba Jesus was. Hy wat die wêreld van hulle sondes sou verlos en vir almal God se liefde op tasbare wyse kom demonstreer het.
In die maand van Desember gaan ons baie sterre sien. Helder aande wanneer ons buite saam met familie en vriende kuier. Sterre aan Kersbome, sterretjies in winkelvensters en sterre op blink Kersfeespapier.
Mag die sterre van Kerstyd jou met hoop vul. Mag dit jou verwonderd en vol ontsag laat. Sodat jy sal onthou: ons is klein, nietig en swak. God is almagtig. En Hy is en bly in beheer. Mag die sterre jou na die kindjie lei en jou aan die Verlosser herinner. En mag jy self, in woord en daad, ’n teken van hoop wees. ’n Ster in eie reg. Jy het immers ook toegang tot die troonkamer van God.
Geseёnde Kersfees.