Dit was ’n vreemde jaar.
Só vreemd, dat ons definisie van “vreemd” waarskynlik so saam met ons bestaande wêreld op sy kop gekeer is. Voorheen sou ons dié woord dalk gebruik om na uitsonderlike weerspatrone, onverwagte gedrag, snaakse smake of ’n onbekende omgewing te verwys. “Dis vreemde weer vir Desember.” Of: “Ek kon nooit tuis voel in die vreemde plek nie.” “Die kerrie proe vreemd.” “Sy tree vreemd op.”
Dit was gewoonlik ’n terloopse verwysing. “Vreemd” het gewoonlik darem min of meer binne ons bestaande leefwêreld en verwysing ingepas. Dit het ’n begin en ’n einde gehad. “Vreemd” was nie gewoonlik ’n jaar lank nie. Dit het nie so naby ons lyf kom sit nie. Die woord was nie vantevore so allesomvattend nie. So inklusief. Globaal.
Nooit het ons kon dink dat “vreemd” gaan impliseer dat ons vir weke (of maande) lank tuis moet bly, dat ons skielik van die huis af moet werk (en tussendeur die kinders deur ’n skooldag moet kry), of dat maskers en handreiniger skielik ons deel sou wees nie. Dat daardie lang beplande vakansie toe nie sal kan plaasvind nie, dat ons mekaar nie ’n vertroostende druk mag gee of tot laatnag met ons hartsmense in ’n restaurant kan kuier nie. En wie sou ooit kon voorsien dat sportstadions, luukse hotelle en teaters skielik sou leeg staan? En nuusblaaie regoor die wêreld vir maande lank dieselfde stories sou dra?
“Vreemd” was hierdie jaar ’n meesleurende golf. Sonder onderskeid. Miskien het “vreemd” vir jou beteken dat jou onderneming sy deure moes sluit of dat jy van geliefdes moes afskeid neem. Miskien het dit jou weggehou van kosbare vriende en familie wat oorsee woon. Ontsaglik onbekend. Ondenkbaar. Hartverskeurend.
Maar dalk was daar ook iewers langs dié pad vreemde, onverwagte meevallers. Baie mense kan getuig dat hulle vir die eerste keer in jare weer saam met hulle kinders bordspeletjies gespeel het. Of dat hulle as gesin uiteindelik daardie groentetuin aan die gang gekry het, geleer het om brood te bak, foto albums afgestof het of kopstukke met ’n lewensmaat gesels het. Die grendeltyd was soms ’n blaaskans, ’n verposing. Die stadiger pas het baie van ons in ons spore gestuit, weer laat nadink oor dit wat vir ons belangrik is en die mense met wie ons ons lewens deel. Dit was die geleentheid vir voorraadopname en herbesin.
Ons sien sekerlik almal uit na ’n “normaal” ná dié “nuwe normaal” – met al sy beperkings. Ons wil aanbeweeg na veilige, hoё grond en nie langer met vrees en onsekerheid saamleef nie. Ons wil graag almal vir wie ons lief is in een kamer kan saamnooi, impulsief ons tasse pak vir ’n vinnige wegbreek, kinders in jillende groepe op die speelgrond of in die park sien speel of saam met honderde ander mense ’n kerkdiens, sportwedstryd of goeie teaterproduksie kan bywoon. Die vreesaanjaende moontlikheid dat dit dalk nie gou genoeg gaan gebeur nie, is genoeg om enigeen se lewenslus te blus.
Miskien, terwyl ons angstig vir die wonderwerk van ’n inenting of kuur wag, kan ons dink wat ons van hierdie vreemde jaar met ons wil saamvat die toekoms in. Watter goue randjie van dié donker onweerswolk sal jy graag weer in die toekoms wil sien glinster? Watter deeltjie van “vreemd” moet vir ons bekend word?
Dalk het jy hierdie jaar jou huis, jou huismense en selfs jou troeteldiere opnuut leer waardeer en geniet sodat ’n naweek of ’n vakansie tuis voortaan ’n seёn, en nie noodwendig ’n klein teleurstelling nie, gaan wees. Of dalk gaan jy juis met nuwe oё na die voorreg van ’n familie vakansie kyk. Miskien wil jy in die toekoms meermale so lekker saam met jou gesin om die etenstafel kuier, piekniek in die agterplaas hou, voort woeker met die houtwerkprojek, meer by jou kinders se skoolwerk of die huis take betrokke wees, of steeds voortgaan om jou buurvrou te vra of sy iets van die winkel af nodig het.
Ons onderstebo klein wêreldjies het ons skielik van ander se wêrelde en swaarkry bewus gemaak, binne ons eie samelewing, maar ook in ander kulture en wêrelddele. Ons benarde situasie het ons in baie gevalle gedwing om Jesus se hande en voete, sy oё en ore, hier op aarde te wees. Dit het ons weer nederig en afhanklik gemaak. Ons sal almal daarby baat as ons die dankbaarheid, besorgdheid, die meelewing vir ander, die uitreik na mense wat swaarder as ons getref is, op ’n manier kan laat voortleef.
Dit sal vreemd, en nogal hartseer wees, as dit nie gebeur nie.