Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

Die laaste paar maande is dit die vraag wat ek konstant vir myself vra:

“Waarheen is jy oppad?”

Dan moet ek nou bieg en erken dat ek meeste van die tyd nie myself kan antwoord nie. Nes ek dink daar is rigting, slaan iets weer my voete onder my uit. Hetsy Covid of finansies of jou optrede teenoor ‘n kind wat jou laat voel soos ‘n totale mislukking as ouer.

Ek besef die ander dag, dat ons as ouers onder geweldige druk is. Ons word gebombardeer deur alles en almal vanuit alle oorde. Net soos ons dink ons maak vordering, word die volgende “moenie” en “jy mag nie” op ons afgedwing. Somtyds voel dit vir my dat kinders meer regte as ek het en dat hulle geleer word om die “mag” wat hulle het miskien te misbruik.

Met Vadersdag kry ek ontbyt in die bed, baie geskenke en nog meer liefde. In die leunstoel voor die bed sit Oupa (my pa) – hy het net soveel geskenke, indien nie meer nie, en die kinders deel ook daar soene uit. Hy het verseker meer spek as ek gekry!
Die toneel by Oupa vol klouter en skaterlag gee my ‘n knop in die keel met trane wat vlak sit.

Dit is juis te midde van giggels en groot emosies wat ons mekaar vir ‘n oomblik diep in die oë kyk. Dit tref my – my Pa is die Koning van die heelal – en hy het my aardse pappa, my held, vir my gegee as geskenk. Dit is juis deur die liefde van hierde geskenk, wat ek my hemelse Pa leer ken het, Hom in aksie gesien het op aarde, al is hy nie fisies hier nie. Dit is my pappa wat my geleer het wat ‘n Vader werklik is. Ek wou hierdie geskenk al menigte kere oortrek met papier van ongeduld, strikke van kwaai woorde en ‘n kaartjie vol oordeel.

Nou lees ek Cassie Carstens se boek: “The World Needs A Father”

Met apologie wil ek skreeu dat die berge antwoord gee: “The World Needs Parents” Ons het helde nodig, mense wie voluit leef en deur hul voorbeeld ons ook dring om voluit te leef. God het ons nie gemaak om halfmas te leef nie, ons is 100% gemaak en moet so leef.
Dit moet die rigting bepaal waarheen ons oppad is.

Ons hardloop tans reguit op die afgrond af, ons weet dit, ons sien dit, maar ons is te bang om te doen wat gedoen moet word. Veral ék wil so graag iemand anders blameer.
Hulle het ons mos geleer, ons is beïnvloed deur hulle!
Alhoewel dit waar is – het ons die voorreg en vaardigheid om te kan kies.

Ons kan besluit om nie oor die rand van die afgrond te spring nie.

“Insanity is doing the same thing over and over and expecting different results.”
– Albert Einstein

Ek lees vanaand weer Jesaja 43…. God is aan die woord en gee die versekering dat as ons deur water gaan, sal dit ons nie wegspoel nie, as ons deur vuur moet gaan, sal die vlamme ons nie brand nie. Kyk! Ek gaan iets nuuts doen!

God wil iets nuuts doen in ons elkeen se lewens. Ek en jy kan vir ons kinders help om nuwe betekenis aan hul lewens te gee. Ons is die voorbeeld van respek, van liefde, van eerlik wees, van hoop, van mooi praat en van geloof.
Wanneer laas het jy die deur van die motor vir jou vrou, verloofde, lewensmaat of kind oopgemaak?
Wanneer laas het jy met vreugde getuig oor jou geloof binne jou gesin en binne jou verhoudings?
Dit het my getref op Vadersdag: Maak nie saak hoeveel foute my pa gemaak het nie, maak nie saak hoeveel keer ons baklei het nie, een ding weet ek verseker:

My Pa het my geleer van Hoop, Geloof en Liefde! Hy het dit geleef – deur sy foute en tekortkominge – hy het dit geleef! Ek moet ook – deur my foute en tekortkominge – dit leef!

Ek het die vraag vir myself verander van “Waarheen is jy oppad?” na “Wynand, waar wil jy wees?”

Waar wil jy wees?

Ek wil daar wees waar ek ‘n goeie invloed het, waar ek meer as ‘n pa vir my kinders is. Ek wil die Vader in hul aardse lewens wees, ek wil betrokke wees en ek wil vir hulle Hoop, Liefde en Geloof wees! Ek wil dit lewend in hul lewens maak om sodoende pa en vader te wees. Die enigste manier wat ek daar gaan kom, is as ek eerlik met myself, God en my gesin is. Die dag as ek my foute erken, my foute bely, daaraan werk en hulle hulp aanvaar, dan eers en slegs dan is ek oppad!

Die wêreld is tereg mal, soos Francois van Coke sing!
Kyk om jou rond en besef as kind van God, moet jy iewers begin leef soos een wie verstaan, wie die oorwinning reeds behaal het. Iewers moet ons met oortuiging Sy liefde, Sy hoop en Sy geloof begin leef.
So leef dat ander dit ook verstaan en ook wil leef.

Dankie pa Hannes vir jou liefde en menswees, dankie vir trane, baklei, kwaad word, maar dankie vir liefde hoop en geloof, al was dit stotterend en stukkend met tye… dit was daar.

Dankie Vader in die hemel, vir my ouers, en in besonder my Pa. Dankie Vader dat U hom vir my gegee het om U liefde, hoop en geloof te ervaar en te sien, al het hy ook ‘n paar keer gevra dat U die lydensbeker moet verby laat gaan!

Ek het ook al gevra: “Pappa neem asb hierdie bitter beker van my weg, as dit U wil is.” Dankie Here dat dit U wil is dat ek daaraan drink, dankie dat U die bitter laat beter smaak. Dankie dat die bitter van hierdie lewe my in staat stel om vir my kinders ‘n vader te wees, pa te wees.

Here help ons as pappas en mammas, om self die bitter te drink vir nou, sodat ons kinders eers heelwat later dit hoef te proe ….

Neem ons na daardie plek Vader, elkeen van ons wie gewillig is.

Ek is Here

Liefde Wynand