Aan die begin van 2021 het ek nie soos gewoonlik, ’n dagbeplanner gekoop nie. (Daar was in ieder geval nog baie plek in die een wat ek laas jaar sou gebruik.) En ek het my les geleer: dinge verloop beslis nie altyd soos ons dit beplan nie. Hierdie jaar gaan ek met groter omsigtigheid, en ’n mate van ontsag, aanpak.
My vooropgestelde idee van hoe 2020 daar sou uitsien, is binne die eerste drie maande van die jaar op sy kop gekeer. So tussen al die verwarrende vlakke en voorskrifte deur het ons gesien hoe beplande kuiers, vakansies, kampe en sporttoernooie die een na die ander sneuwel. Dit was, en is steeds tot ’n mate, haas onmoontlik om van enigiets seker te wees.
Die onsekerheid het my tot stilstand gedwing. Op ’n stadium moes ek leer om daarin te berus, en te aanvaar dat dit eintlik ’n goeie plek is om te wees. Ek is immers in die geselskap van geloofsreuse wat hulle in dieselfde bootjie bevind het.
“Trek uit jou land uit,” het God vir Abram, gesiene en gevestigde sakeman, gesê. Waarheen? Dit sou Abram moes uitvind. Hoe lank? Onseker. En die pad? Ook dit sou God vir hom wys. Indien Abram ’n dagbeplanner vir sy jaar gehad het, sou hy dit sekerlik ook maar eerder toegemaak het. Of vir ’n jaar of twee drie gebêre het. Want sy planne vir sy sakeonderneming, vrou, Sarai, hulle broerskind, Lot, en hulle familie het eensklaps verander. Selfs hulle name, hulle identiteite, het verander. Voortaan sou hy nie meer Abram wees nie, maar Abraham. Godsman. Aartsvader.
Voortaan sou Abraham van God se genade, eerder as sy eie planne, afhanklik wees. Sy eie planne, sy vooropgestelde idees, sou tweede kom. Hy sou met groter omsigtigheid te werk moes gaan. Keer op keer sou hy besef dat hy vanuit hierdie afhanklikheid moes leef, dit moes omarm, anders sou dinge skeefloop.
Blaai ons na die Nuwe Testament ontmoet ons vir Saulus. Paulus. ’n Farisieёr in murg en been, totdat die Here ’n stokkie voor sy planne kom steek en sy lewe handomkeer verander. Van skrifgeleerde tot sendeling. Van vervolger, tot vervolgde. En hierna sou Paulus se planne ook nooit weer sy eie wees nie. Hy moes leer om telkens die knie te buig. “As die Here wil sal ek…” “Deur die Gees gelei, het ek verder gegaan.” Tussendeur dit alles leer hy op die harde manier: “My genade is vir jou genoeg. Selfs wanneer jy van jou planne, jou toekoms en jou lewe nie seker is nie. Jy het reeds alles wat jy nodig het. Jy het reeds genoeg. Jy ken My. Ek is die weg, die waarheid en die lewe. Ek is.”
Die nuwe normaal het ons ook geleer om te sê: “As dit U wil is, sal ons…” Ook ons moes leer om ons eie planne en ideale opsy te skuif en ons diepe afhanklikheid van die Here te erken. Ons weg, ons waarheid, ons lewe. Die Here wat gister, vandag en tot in alle ewigheid dieselfde is. Miskien sal ook ons ’n nuwe identiteit in Christus vind. Begenadigde. Geroepe. Geseёnde.
Ek gaan nie ophou beplan en droom nie, maar ek wil graag my planne biddend afhanklik voor die Here lê en sê: “As die Here wil, sal ek. Deur die Gees gelei, sal ek verder gaan.” Want om nie te weet nie en nie te kan beplan nie, is nie altyd sleg nie. Ek gaan hierdie afhanklikheid omarm, voluit daarin leef. Want sy genade is en bly vir my genoeg.