Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

“The world is a market. You will buy a coffin and you will leave” – Unknown

My eerste reaksie was om lekker te lag toe ek hierdie stelling hoor. Eers besef ek nie hoekom ek lag nie…wat ‘n snaakse ding om te sê? Wie praat so? Dan besef ek hoe diep hierdie woorde eintlik met my siel resoneer en hoe wyd die stelling werklik is. Dit laat my onmiddelik dink aan die oggende in Pretoria by die Boeremark.

My eerse besoek aan die Boeremark was een van verwondering. Ek loop lank rond en verkyk my want hier is so baie mense, diere en kinders wat speel en skater van die lag. Om van die verskeidenheid stalletjies nie eens te praat nie. Daar is soet, sout, boerekos, boerekaas, pannekoek, speelgoed, groente, vrugte en tweedehandse boeke om deur te snuffel. Mense staan en sit oral, gesels, drink koffie en hier en daar sien ek ‘n ernstige, ongemaklike gesprek en selfs ‘n traan. ‘n Ma wat raas met ‘n kind, honde wat blaf en ganse wat blaas, ‘n baba wat huil want alles is net te veel en arms vol blomme. Dan sien ek hulle…
Die twee verliefdes. Twee gryskoppe wat hand om die lyf staan agter ‘n tafel. Albei met tuisgemaakte voorskote en goue-raam brilletjies. Die oom fluister iets in haar oor en meteens sien ek ‘n ligte blos op haar wange terwyl sy hom speels wegstamp. Ek stap nader.

“Môre môre, hoe klink pap en kaaiings vanmôre?”, vra die oom terwyl hy gesellig in my oë kyk. Dit is twee koshuispotte kos wat hulle sommer agter op die plaasbakkie laai en kom verkoop. Ek voel sommer plaas. Ek het groot geword met pap en kaaiings en dadelik vat ek ‘n bakkie. My liefde (nou my vrou), verduidelik dat ek hierdie moet proe, want dit is die beste ooit! Sy sing omtrent oor die klein stukkies vleis wat hulle inhou en net die regte hoeveelheid sout. Toe ons nog gevry het, het sy ‘n bakkie met Glad Wrap toegemaak en vir my pa afgevlieg George toe. Ek is vas oortuig dit was die dag wat sy maar dogter geword het in sy oë. Ilze was egter reg, dit was die beste ooit. Ek wonder of hulle nog by die mark is? Dit was Covid en Gauteng het my lanklaas gesien. Maar wanneer ek weer gaan – gaan ek hulle eerste soek. So kan ons elkeen baie stories deel oor die ‘market’ waarin ons loop en leef, oor die mense wat saamloop en daai dinge wat dit juis ‘n mark maak. Dit is hoe die lewe ook is.

“The world is a market. You will buy a coffin and you will leave. The grace lies in how you shop.” -Wynand Olivier

Met apologie, verander ek die aanhaling, want dit is alles waar, maar ons het ‘n opdrag van God. Deur Sy genade word ons in die mark van die lewe gebore, dan ontdek ons die mark en ons leef. Ons moet keuses maak, ons moet besluit waar ons koop en waar ons nie stop en deelneem nie. Waar vat ons tyd om te bewonder en waar skrik die prys ons af.
Maak nie saak wat ons doen nie, ons is deel van die mark en ons het ‘n groot rol te speel. En of ons nou wil of nie – ons gaan ‘shop’ in hierdie mark tot jou kis gekies is. Ons moet verhoudings bou, ons moet die mark uitbrei en selfs beskerm teen te veel van dieselfde. Die produkte moet bemark word en die estetika moet die oog pas. Ek moes myself weer ‘n paar belangrike vrae vra. Mag ek vra dat jy hierdie vrae vir jouself ook vra?

  1. Wat is my impak op die mark?
  2. Die dag wat ek my kis vat en loop – wat gebeur dan met dit wat agterbly?
  3. Dra ek by tot die geselligheid van die mark of maak ek dit onplesierig vir my mede-aankopers?
  4. Watter stories vertel die pap en kaiings stalletjie se mense oor my?

Die realiteit is dat ons in hierdie mark lewe – maar ons nie van hierdie mark is nie. Want ons is net tydelik deel van hierdie wêreld en haar dinge. Ek het nuut besef dat die marktyd nooit genoeg sal of kan wees nie, want daar is altyd iets nuut, iemand anders waarmee ek wil gesels, nog stalletjies wat ek wil besoek. Daar is altyd ietsie soets of ‘n nuwe gereg wat ek moet probeer. Iemand wat interessant lyk en iemand wat gehoorsaam is aan hul kreatiwiteit. En dit maak dat as jy weer sien, jy by jou kis staan, moet betaal en moet loop.

“Wat sal ek saamvat as ek na die Here toe gaan?” – Miga 6 vers 6

As kind van God, kan ek nie anders as om ‘n impak op die markplein te hê nie. Dit is my opdrag van God self. Ek moet so lewe dat ek ander mense Sy liefde en vreugde wys. Die mark moet my energie, my hoop, my liefde en my diensbaarheid verkoop, dit adverteer en dit eendag mis.

Daar gaan ‘n dag kom wat dit te laat is. So ek moet leef, nou gee, nou geselsies aanknoop en ek moet elke dag op die mark sien as moontlik my laaste. Die mark gaan aan. Daar is elke dag nuwe mense wie kom “shop” en ander wat met hul kis wegstap. Ek as kind van God, die bemanning van Sy stalletjie, ek moet Sy beeld wees en vanoggend vroeg lees ek weer Miga 6. Die Here vra van my en jou om reg te laat geskied op die mark van die lewe. Hy vra van ons dat ek en jy Sy liefde en trou sal bewys aan elkeen met wie ons paaie kruis. Dan vra Hy dat ek en jy bedagsaam voor Hom sal lewe. Loop ons op die mark van die lewe met bedagsaamheid teenoor God? Erken ons Hom as die eienaar van die mark?

“Om die Here te dien, dit is wysheid” – Miga 6 vers 9

Ek en jy moet Hom voluit dien in die mark van die lewe, ons moet die mark geniet, ons moet leer, ons moet soms verkeerde draaie loop, te duur vir iets betaal. Ons moet klere aanpas, winskopies soek en kos eet wat nie ons gunsteling is nie. Dit is ‘n mark en dit is tydelik. Ons almal is tydelik. Daar waar jy sit, dink gou vinnig aan iemand wie jy op die markplein van die lewe leer ken het, dalk saam aan pap en kaaiings gesmul het en wie sy/haar kis betaal het en geloop het. Vertel ‘n storie oor hom/haar. En wanneer jy more-oggend jou aankope lysie skryf…dink weer aan my vrae. Maar nou…daai mark wag, en ongelukkis wag die kisbouer nie saam met hom nie. Ek sien jou op die mark. Ek is by die pap en kaaiings!