‘Vertrou op die Here! Wees sterk en hou goeie moed! Ja, vertrou op die Here!’ Psalm 27:14
Kinders van die Here is nie bang vir wat die toekoms inhou nie. Ons vrees nie gerugte van oorloë, natuurrampe, siektes, geweld of ekonomiese krisisse nie, want ons behoort aan die Almagtige Skepper. Die Een wat deur dit alles steeds in beheer is.
Luister na hierdie mooi belofte van Jesus:
‘Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.’ Johannes 16:33
Op ’n ander plek sê Hy ook dat ons nie moet bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak en daarna niks verder kan doen nie. Dit is omdat Hy op die ou end die laaste sê het. (Luk. 12:4-5)
Ons lees in Handelinge 18 hoedat Paulus in Korinte elke Sabbat die Jode in die Sinagoge probeer oortuig het dat Jesus die Christus is. Hulle het egter aangehou om hom te beledig. Ek kan my net indink hoe moedeloos en gefrustreerd hy moes gewees het. Hy het immers sy lewe aan hierdie taak gewy.
‘Een nag het die Here in ‘n gesig vir Paulus gesê: “Moenie bang wees nie; hou aan met preek en moenie stilbly nie,’ Handelinge 18:9
Die Here wou nie hê Paulus moet moed opgee nie. Hy het hom aangespoor om dapper voort te gaan met preek. Ek glo dat hierdie woorde vir elke Christen geld. Moenie bang wees nie. Hou net aan.
Ons word elke dag uitgedaag om ons geloof op te gee. Die regte pad raak al hoe moeiliker om raak te sien, en die lyn tussen goed en sleg vervaag met tyd. Oral is stemme wat probeer om harder as die Gees te praat. Die besef dat ons in die minderheid is word al hoe duideliker. Jesus sê:
‘Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die koninkryk aan julle te gee.’ Lukas 12:32
Moenie bang wees om nuwe dinge aan te pak en daardie eerste tree op die water te gee nie. Moenie bang wees om jou geloofsoortuiging openlik uit te leef nie. Moenie bang wees vir die skerp tonge en rugstekers nie. Moenie bang wees dat jy nie goed genoeg, of sterk genoeg, of slim genoeg is nie.
Jy is tot alles in staat deur Christus wat jou krag gee. (Fil. 4:13)
Hy is die Een wat vir jou veg. (Duet. 20:4)
Jy is losgekoop. (1 Petrus 1:18-19)
Niks kan jou van sy liefde skei nie. (Rom. 8:37-39)
Daarom kan jy, kind van God, elke nuwe dag dapper en vol moed aanpak.
Geskryf deur Madeleine Venter