Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors
Search in posts
Search in pages
wpfc_sermon
wpfd_file

‘I know a lot of people who are “dead”. But they walk, they talk, they watch television. They work hard sometimes, but somehow this spark of divine energy is lost. It’s not that it is lost forever. This child that you have in your soul can always say hello again and provoke this spark to manifest itself. But these people renounce the fact that they have dreams. They lose contact with the dream. A person who is disconnected from his or her heart is not living.” – Paulo Coelho

Die dae en weke wanneer dit goed gaan, as dinge mooi loop, is dit makliker om jou hart te bewaar en te beskerm, as die dae en weke wat die druk hoog is en dinge nie so lekker vloei nie. Ek kom ook agter dat ek tydens die moeiliker tye baie maklik die vinger na ander wys, vir ander die skuld gee. Ek klim in die rol van die slagoffer in, want die voorbeeld wat ek van kindsbeen af gekry het, is om die kollig en oorsaak van my tekortkominge aan ander toe te dig.

Paulo Coelho se aanhaling hier bo, het my vir ‘n paar dae erg besig gehou. My eerste reaksie was dat ek nie een van die mense is wat loop en werk terwyl ek “dood” is nie. Ek het gesprekke en redenasies met die skrywer gehad en soms sommer lekker baklei. Wie is hy nou om vir my te vertel hoe dood ek is? Die ergste is dat hy nie eers my naam genoem het nie, maar tog ‘n diep, persoonlike senuwee tref!

Hoekom tob ek hieroor? Hoekom wil ek dit verdedig?

Terwyl my gedagtes maalkolk hieroor, speel ‘n liedjie deur my oorfone: “Siyahamba ekuhkah neyni kwenkos – We are marching in the light of God.”

Dit tref my weer dat as ek in Sy lig wandel, daar niks is wat nie gesien kan word nie. Niks wat weggesteek kan word nie. Die voorbeeld wat die heelal ons wys, is dat ons alles wat ons nie gesien wil hê nie, kan wegsteek.

Dit is net nie waar nie.

Want ons wandel in die lig van God en alles is sigbaar al dink ons dat niemand dit kan sien nie. Al lyk my hart vir die wêreld pik donker, kan ek niks vir die maker van my hart wegsteek nie.

Terug by die aanhaling aan die begin.

Ons almal is veel te besig om weg te kruip in die selfgemaakte donkerte van ons harte. Toe ons kind was het ons niks versteek nie – ons harte was spreekwoordelik op ons moue! Spreuke waarsku dat ons versigtig moet wees met dit wat in ons hart omgaan, want dit bepaal ons hele lewe. Dieselfde krag waarmee Jesus die dood oorwin het, leef binne elkeen van ons en dit is in ons harte. Dit is die Gees van God wat in ons is, wat net wag todat ons hom erken en die reg gee om te leef in ons, met ons en deur ons!

Leef jy nog in harmonie met jou hart?

Voel jy nog die heilige ritme wat deur jou pols?

Glo jy nog soos ‘n kind en droom jy nog die drome wat God in jou hart gesit het?

Deesdae is dit nog makliker om weg te kruip. Ons almal dra reeds ‘n fisiese masker so om die geestelike een aan te trek gebeur sonder skroom en met gemak. Daag jouself uit om die kind in jou gees weer te laat lewe, te laat giggel van die lekkerkry. Raak weer spelerig in jou gees, huppel en spring, wees stout, wees net jouself. Dit is die uitdaging wat ons het, om net weer onsself te wees en nie meer slaafs die donker van menswees na te volg nie. Volg die Lig en die sprankel van God, daai sprankel en speelsheid wat jy so diep binne jouself versteek, want jy is bang ander sien dit raak.

Ek is bang ander sien my vreugde in my swaarkry en dan dink hulle ek gee voor!

Nee, voorgee is om in die donker weg te kruip. Ek moet bieg, hier waar ek sit en tik, sit die donker op die stoel langs my. Die donker van ‘n besigheid wat op die rant van ineenstorting is, die donker van hoe gaan ek vir ander verduidelik dat ek die kans staan om my besigheid te verloor en dalk wel verloor.  Die donker van ‘n gesin om te versorg en kinders om aan die lag te hou.

Toe ek in die donker geskuil het was ek negatief en moedeloos, maar my kinders het my weer geleer wat die lig is. Hulle speelsheid, hulle net wees in die Lig van Jesus, het my stadig uit my eie mensgemaakte donker uitgelok. En nou lag en speel ek weer, nou giggel ek saam met hulle met die wete dat niks my van Sy Liefde kan skei nie. Daar is niks in die donker waarvoor ek bang hoef te wees nie, want as ek in Sy Lig staan, sien ek weer die pad wat ek met volharding kan loop.

Skielik droom ek weer, skielik gee ek alles vir Hom terug en voel ek sorgeloosheid in my wese. Want dieselfde krag waarmee Hy die dood oorwin het, leef ek mee.

Ek kan met eerlikheid uitbundig sê dat ek nie vrees nie, nie bang is oor wat more gaan lewer nie, want ek het vandag. Ek het lewe, en speel, ek is net wie Hy my gemaak het om te wees en ek poog om net dit te wees elke dag, een dag op ‘n slag.

Wees versigtig met jou hart, want jou hart bepaal jou lewe.

Ons praat weer