Romeine 12:21 is een van my gunsteling Skrifgedeeltes, en een wat ek gereeld aanhaal: ‘Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.’
Ek het egter al uit ondervinding geleer dat dit glad nie so maklik is om hierdie raad in praktyk toe te pas nie. Wat presies is hierdie ‘goeie’ waarmee ons veronderstel is om die kwaad te oorwin?
Die antwoord lê in die lys wat hierdie Skrifgedeelte voorafgaan – riglyne vir ’n Christelike leefwyse. Hierdie riglyne sluit dinge in soos hartlike broederliefde, nie kwaad met kwaad te vergeld nie, jou by die nederiges te skaar, en nie eiewys te wees nie. (Rom. 12:9-20)
Dit is die moeite werd om ’n in diepte studie van Romeine 12 te maak. Dit is juis hierdie kenmerke wat ons anders maak as die res van die wêreld, sodat ons Jesus se liefde deur ons leefwyse kan uitbeeld. So word ons sout en lig.
Weereens is dit egter makliker gesê as gedaan. Jou sondige natuur wil kwaad met kwaad vergeld, hooghartig en eiewys wees, en is nie altyd lus om gasvry te wees of in vrede met almal te leef nie.
Hoe is ’n mens dan veronderstel om die kwaad deur die goeie te oorwin as daardie kwaad eintlik maar sluimerend binne in jou ook is?
Paulus maak ’n baie belangrike stelling in Romeine 12:2, en dit is ons sleutel tot sukses: ‘Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.’
Die Grieks vir ‘vernuwe’ in hierdie Bybelvers, is ‘metamorphoo’ waar ons die woord metamorfose vandaan kry.
’n Skoenlapper is nie meer ’n ruspe nie. Hy eet nie meer blare nie, kruip nie meer soos ’n ruspe rond nie, en lyk ook glad nie meer soos een nie. Hy het ’n metamorfose ondergaan – ‘n totale verandering. Dit is presies wat met ons gedagtes moet gebeur.
Wat jy doen en hoe jy optree, begin met hoe jy oor dinge dink. As jy dus anders as die wêreld wil optree, moet jy eers anders dink. Dis gelukkig ook nie iets wat jy op jou eie hoef te probeer regkry nie, ‘… laat God julle verander deur julle denke te vernuwe …”
Wanneer jy jouself as lewende offer aan God gee, dan plaas jy Hom in beheer van jou hele lewe – ook jou gedagtes. Dan sal jy die kwaad deur die goeie kan oorwin.
‘En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.’ Romeine 12:1
Geskryf deur Madeleine Venter