‘As daar net iemand was om tussen ons te bemiddel en ons bymekaar te bring!’ Job 9:33 NLV

Job het hierdie woorde uitgeroep tydens die donkerste tyd van sy lewe. Hy het daarna gesmag om sy klag voor God te bring, maar ook baie goed geweet dat hy nie ’n kans teen die Almagtige staan nie. In vers 20 sê hy dat sy eie mond hom sal veroordeel – selfs al is hy onskuldig. Job het iemand nodig gehad om tussen hom en God te staan. Dan sou hy met Hom kon praat sonder om bang te wees. (Job 9:35)

Die goeie nuus is dat dít wat Job voor gewens het, reeds vir my en jou gebeur het. Daar is ’n Middelaar. Iemand wat met sy eie bloed betaal het sodat jy met God kan praat sonder om bang te wees.

‘Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus’ 1 Timoteus 2:5

Daardie gordyn tussen ons en God het geskeur die dag toe Jesus aan die kruis gesterf het. Jy hoef nie te wag totdat jy ’n beter mens is voordat jy met Hom praat nie. Jy hoef nie jouself eers reg te ruk, meer Bybel te lees, of weer ’n slag kerk toe te gaan nie. Niks wat jy doen gaan jou skoon genoeg maak om voor die Almagtige te verskyn nie. Dit is onmoontlik.

In sy groot genade, en uit sy wonderlike liefde, het God ’n Middelaar gestuur. Iemand wat al jou sondes afwas, sodat jy skoner as skoon voor sy troon kan gaan staan.

‘Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee.’ Titus 3:5

Hierdie Middelaar sal jou net daar waar jy lê en roep gaan optel en na die Vader toe dra. Hy is nie bang vir die donker nie, en jou vuilheid skrik Hom nie af nie. Hy het immers al daardie donkerte en vuilheid saam met Hom kruis toe gevat. (Jes. 53:5-6; 1 Pet. 2:24; Kol. 2:14)

Charles Spurgeon het gesê: “The very act of prayer is a blessing.” En dit is inderdaad so. Gebed is ’n groot geskenk wat die Middelaar vir ons moontlik gemaak het.

Mag jy dit gedurende hierdie week ook so ervaar.

 

Geskryf deur Madeleine Venter