Ek sien ’n vrou in die ry met ’n lag in haar oë, en ervaar hoedat vriendelikheid aansteeklik is. Die pa wat so geduldig met sy moeilike kind praat, is ’n bewys van sagte woorde wat woede laat bedaar. Sonder om te kyk, draai ek per ongeluk voor ’n ander motor in, maar die bestuurder glimlag net en waai my fout ongeërg met sy hand weg, en by hom leer ek dat mens nie altyd so vinnig kwaad hoef te word nie. Almal vreemdelinge wat my ’n bietjie wyser gelaat het sonder dat ons ooit ’n woord met mekaar gepraat het.
Dit laat my wonder watter indrukke ék agterlaat. Wat leer die mense by wie ek verbygaan van my? Vreemdelinge? Kolegas? Vriende? Familie?
Jesus sê hieroor: ‘Julle is die lig vir die wêreld. ‘n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie’ Matteus 5:14
Tensy jy heeltemal blind is, is dit onmoontlik om ’n lig mis te kyk. Net so, behoort dit ook onmoontlik te wees om God se kinders mis te kyk. Moses se gesig het gestraal nadat hy tyd saam met die Here deurgebring het, en Stefanus s’n het soos dié van ’n engel gelyk. (Eksodus 34:29-35; Hand. 6:15)
In 2 Korintiërs 3:18 sê Paulus:
‘Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is’
Net soos wat ’n spieël nie jou beeld kan terugkaats tensy jy daar naby is nie, kan ons ook nie Christus se heerlikheid weerspieël as ons nie naby aan Hom is nie.
Die Gees wil selfs meer as dit doen, Hy wil jou heeltemal verander sodat, wanneer mense na jou kyk, hulle vir Jesus sien. Hy wil ontslae raak van die donker plekke in jou hart. Die onkruid in jou gedagtes met wortel en al uitroei, sodat jy ’n gesonde boom kan wees wat Hom verheerlik met goeie vrugte. Dan sal die indrukke wat jy agterlaat liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing wees.
‘As jou hele liggaam verlig is en nie ‘n enkele donker plekkie het nie, sal dit heeltemal verlig wees soos wanneer ‘n lamp jou met sy skynsel verlig.’ Lukas 11:36
Lydenstyd en Paasfees is verby. Dit beteken egter nie dat jy in jou toewyding kan verslap nie. Juis nóú moet jy die betekenis van Christus se kruisdood en sy opstanding oral met jou saamdra. Juis nóú moet ons sy heerlikheid weerspieël.
Geskryf deur Madeleine Venter