‘Dit gaan dus nie om die een wat plant of die een wat natgooi nie, maar om God wat laat groei.’ 1 Korintiërs 3:7

Wanneer jy ’n Geesvervulde kind van God is, kan jy verseker weet dat jy nie dieselfde gaan bly nie. Die Gees gaan jou elke dag ’n bietjie meer laat groei sodat jou lewe voortdurend vrug dra tot God se eer.

Christene stagneer wanneer hulle nie bereid is om hulle gemaksone te verlaat en vorentoe te beweeg nie. Hulle raak so verknog aan sekere ideologieë en leerstellings, dat hulle nie meer tred hou met hoe die wêreld besig is om te verander nie.

Hiermee sê ek nie dat ons moet begin om kompromieë aan te gaan nie. Jesus waarsku dat ons nie louwarm mag wees nie. Ons moet steeds in Hom geanker bly en ons lewe rig volgens sy Woord. (Op. 3:16; Kol. 2:7; 2 Tim. 3:16)

Jy moet egter bereid wees om jou te laat leer sodat jy kan groei. Daar is niemand wat reeds alles oor Christenskap weet wat daar is om te weet nie. Die Heilige Gees is dinamies en Hy wil jou gedurig voorberei vir die sendingveld. Hy weet baie beter as jy hoe hierdie sendingveld lyk en wat nodig is om vrugbaar te wees in jou bediening.

‘Daarna het Hy hierdie gelykenis vertel: “’n Man het ‘n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was. Toe hy vrugte daaraan kom soek maar niks kry nie, sê hy vir die tuinier: ‘Kyk, dis nou drie jaar dat ek aan hierdie vyeboom vrugte kom soek, en ek kry niks nie. Kap hom uit! Waarom moet hy langer die grond uitput?’ Maar die tuinier antwoord: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond rondom hom omspit en bemes. Miskien sal hy dan volgende jaar vrugte dra. Maar so nie, kan u hom uitkap.”’ Lukas 13:6-9

Hierdie gelykenis van Jesus was oorspronklik op die Jode gemik as waarskuwing dat hulle tyd om tot bekering te kom besig was om uit te loop. Soos wat Johannes die Doper hulle gewaarsku het, lê die byl reeds teen die wortels, gereed om elke onvrugbare boom uit te kap. (Luk. 3:8-9)

Daar is egter ook vir ons ’n boodskap hierin. Jesus is die tuinier wat die grond rondom die vyeboom wil omspit en bemes. Dit is sy begeerte dat almal wat aan God behoort groei en vrug dra. Hy wil jou ’n kans gee deur jou toe te rus met wat nodig is daarvoor. Gaan jy Hom toelaat?

‘Hy is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak.’ Psalm 1:3

 

Grskryf deur Madeleine Venter