‘Wie my vind, vind die lewe self en geniet die guns van die Here.’ Spreuke 8:35
Het jy geweet daar is twee verskillende soorte wyshede? Die een vernietig, en die ander een bring lewe.
Daar is uitgeslape swendelaars en sindikaatleiers. Gladde tonge wat aanhits en opstook en verdraai en verdoesel. ’n Slim gekonkel met die boeke en kreatiewe geldverduistering. Wit leuntjies. Manipulering. Skelm verhoudings. Omkopery. Wêreldse wysheid loop uit op wanorde en gemene dade, want dit word deur naywer en selfsug gedryf. Deur die eeue kon mense nog altyd slim maniere bedink om dinge tot hulle voordeel te laat uitdraai. Daardie what’s-in-it-for-me-mentaliteit is niks nuut nie. Jakobus veroordeel hierdie tipe wysheid, en noem dit demonies. (Jak. 3:14-16)
Dan vertel hy ons van ’n wysheid wat eintlik teenstrydig is met die menslike natuur:
‘Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg. Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak.’ Jakobus 3:17-18
In ’n mindere of meerdere mate beskik ons almal oor wêreldwysheid. Ons moet dus daarteen waak dat ons optrede nie deur hierdie wysheid bepaal word nie. Wat ons eerder moet nastreef, is daardie wysheid wat begin met die dien van die Here. Dit is ’n Goddelike wysheid, en die goeie nuus is dat jy die Here mag vra om dit vir jou te gee. (Spr. 9:10; Jak. 1:5)
Dit is die wysheid waarmee God alles geskape het. (Spr. 3:19; 8:22-31) En ook waarin Hy besig is om sy verlossingsplan deur te voer:
‘Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense.’ 1 Korintiërs 1:25 (lees ook verse 18-21)
Vir die volgende paar weke wil ek graag dieper delf in elk van die eienskappe van Goddelike wysheid soos wat dit in Jakobus 3:17-18 gelys word, en ek hoop jy sal hierdie pad saam met my aanpak sodat die wysheid wat van Bo kom deel van ons alledaagse lewens kan word.
‘Ek, Wysheid, is kosbaarder as edelstene; wat jy ook al as baie werd beskou, teen my weeg dit nie op nie.’ Spreuke 8:11
Geskryf deur Madeleine Venter