Die nuwe is altyd onbekend. Dit kan ’n vriend wees, dit kan ’n vyand wees – wie sal weet? Die enigste manier om uit te vind, is om die deur oop te maak. Dis juis daar waar vrees en teenstand insluip: ons wil beheer hê, maar die nuwe kom van buite ons, nie uit onsself nie. En daarom voel dit of ons hele verlede op die spel is. Geen wonder dit maak ons bang nie!

Om die nuwe te omarm vra moed. My ervaring – in my eie lewe en by ander – is dat ons soms bang geword het vir verandering. Ons speel veilig, maar dan groei ons nie meer nie. Hoe kan ek groei as ek te bang is om oop te maak vir die geleenthede wat aan my deur klop?

Ons leef in ’n wêreld wat ons wysmaak dat groei afhang van gewildheid of ’n bankrekening. Maar soos die klip tussen Namakwaland se veldblomme, bly ons dood as ons net by die wêreld se maatstawwe bly. Ek kan nie die nuwe self skep nie; dit klop buite my deur. My keuse is eenvoudig: aanvaar of verwerp.

By ons kinders sien ek dit ook. Kort-kort is daar iets nuut wat hulle moet hanteer. Die beste manier is nie om te veel te dink nie, maar om eenvoudig oop en spontaan te wees – soos ’n kind. Wanneer ek probeer om besluite af te dwing vanuit my verlede en my ervaring, maak ek foute. Maar wanneer ek oopmaak, stap nuwe lig, nuwe insig en nuwe lewe by die deur in.

Jesus sê: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom eet” (Openbaring 3:20). Om God toe te laat om my nuut te maak, beteken ek laat die verlede los. My onthou hou my vas – dit voed my ego, dit hou my in selfbejammering. Maar God se nuwe bring vreugde, liefde en groei.

Ek hoor dit gereeld hier in Noordwes waar ons nou woon: “Jy sal nog leer, dis hoe ons dit nog altyd doen.” Maar hoe kan ’n mens werklik leer as jy net terugkyk? God se nuwe is nooit vas in die verlede nie – dit bring lewe en hoop. “Kyk, Ek gaan iets nuuts doen; dit het al begin gebeur, julle sien dit mos” (Jesaja 43:19).

Verandering is nie ’n bedreiging nie – dit is ’n geleentheid. Dis natuurlik om onseker te voel, want verandering ruk ons uit ons gemak en roetine. Tog herinner die Bybel ons dat God juis deur verandering nuwe dinge laat gebeur: “Word verander deur die vernuwing van julle gemoed” (Romeine 12:2). Sonder verandering is daar geen groei nie, net stagnasie. Verandering is dus nie die vyand nie, maar die instrument wat God gebruik om ons nader aan Hom en Sy doel met ons lewens te bring.

Hiermee saam het ek eenkeer ’n aanhaling gelees wat my diep laat dink het. Osho het gesê:

“Very rarely does a person want to be happy… They love to be unhappy … in fact they are happy in being unhappy.”

Selfs buite die Christelike geloof sien mense dit raak: ons hou soms vas aan ons ellende omdat dit bekend en “veilig” voel. Maar die Bybel roep ons tot ’n ander pad – een van hoop, van geloof, en van nuwe lewe in Christus.

Ek moes leer dat ellende die maklike uitweg is. Dis maklik om die slagoffer te speel, om vas te kyk in wat verkeerd was. Maar die dag toe ek besef dat ek self kies of ek die deur oopmaak, het alles verander. Niemand hou jou vas in jou verlede nie – net jyself.

Ware lewe begin wanneer ons volle verantwoordelikheid aanvaar. Dis die eerste stap van waagmoed: om oop te maak vir God se nuwe storie vir my lewe.

Ons aanpassing as gesin na verhuising was rof, regtig moeilik, tot ek egter besef het dat dit my keuse is, dat die verandering, die nuwe al ‘n paar maande voor die deur staan, sonder dat ek Hom toelaat om in te kom en saam met my ‘n feesmaal te geniet.

‘n Mens begin werklik voluit leef, die dag as ons totale verantwoordelikheid aanvaar.  

Dit is so maklik om iemand anders die skuld te gee vir my stryd met myself en my weiering om die nuwe te omarm. Die probleem is dat wanneer ons bly optree in die verlede, hou ons aan oefen om die slagoffer te wees en dit veroorsaak dat ek en jy nooit groei en ontwikkel nie. Ons doen dit aan onsself.

Laat God in sodat Hy saam met jou kan groei, lag en huil,

 Dan is ons…

 Want Hy is…

Stop die verlede deur die nuwe te omarm sodat groei kan oorneem, sodat ellende verdwyn en moed en hoop die pad kan wys…

JY IS.

Geskryf deur Wynand Olivier