Gebed na aanleiding van Psalm 65 (lees 2020-vertaling)
Here, my gebed is een van verwonderende lof aan U vir wat dit beteken om U saam met mede-gelowiges te aanbid. Die psalmis praat van U wat in Sion is, van gelukkige mense in u voorhowe, die goeie van u huis en die heiligheid van u tempel. Intiem, is die verband tussen aanbidding en lewe.
Die noue samehang tussen die liturgie van ons aanbiddingsgeleenthede en die praktyke van ons daaglikse lewe, Here, word helder uitgespel in die psalmis se lied oor die tempel in Sion én u teenwoordigheid in die landbou siklus. Dit is U wat beide my sondeskuld bedek én die kroon span op ’n goeie oes.
Here, dit is wanneer mense na U toe kom om U in u heiligheid te ontmoet, dat die vreugde om in u voorhowe te mag woon, ons oorweldig. Dan kry die geluksaligheid van u uitverkiesende liefde konkrete betekenis. Juis in u genadige teenwoordigheid ontmoet ons U; Verlosser, Skepper en Versorger van ons lewe.
Here, die begeerte om gevoed te word met wat die ruimte van ontmoeting met U vir ons inhou, die goeie en heiligheid van u teenwoordigheid, laat u uitverkorenes nuwe dinge sien en met blydskap die gawe van lewe omhels. U laat jubelinge opborrel van waar die son opkom tot waar dit ondergaan. Net U is God!
Wanneer U diegene wat U uitverkies laat nader kom om U in die simboliese Sion te ontmoet, Here, beleef geluksalige mense dat U hul gebede hoor en ons in geregtigheid antwoord. U bemiddel ons verlossing deur ontsagwekkende dade. U vestig die berge en beheer seë. U gaan verder om aan ons koring te voorsien vir kos.
Dankie vir plekke en geleenthede om met U in aanbidding te verkeer, Here. Dankie vir geloofsvorming as vrug van die salige ontmoetings wat U moontlik maak. Dankie vir bewusmaking van u troue liefde en openbaring van u heerlike krag en mag. Daaruit ontspring my diep ontsag vir U en my begeerte om U te dien.
Here, dit is omdat U ons as u skepsele waardig ag deur geleenthede en ruimtes te skep vir gemeenskap met U, dat ek ook met oë van geloof na die wêreld om my kan kyk en kan insien dat U laat my meewerk in u versorging van die skepping. U deurdrenk die aarde met reënbuie en seën wat daar opkom.
Here, nou wil ek U vreugdevol eer in my daaglikse doen en late. Mag my hele lewe aanbidding tot U wees; ’n roep van vreugde. Amen
Geskryf deur Dr Eddie Orsmond